Die Kwagga het reeds in 1883 in Suid-Afrika uitgesterf en kan net in museums besigtig word, maar hy leef voort in Springbokgewaad, tans van alle plekke in die hartjie van Europa, waar die 30-jarige Albertus Kwagga Smith die Wêreldbeker sy verhoog gaan maak.
Dié Kwagga sal nie sommer soos sy naamgenoot tot uitsterwing gejag word nie, daarvoor sal ‘n trop Springbokke sorg. En nou het Kwagga al 32 toetse agter blad, en het sowel medaljes by die Olimpiese- en Statebondspeles gewen
Dié jong Kwagga het reeds op ‘n jong ouderdom vir homself naamgemaak, eers op HTS Middelburg waar hy vir die Pumas se Cravenweek gekies is en toe hy ‘n goue medalje as deel van Neil Powell se Bokblitse by die Statebondspele gewen het.
Met sy 90 kg pas hy nie lekker in die tipiese Heyneke Meyer-afdruk van ‘n losvoorspeler nie, maar hy saai grootskaalse verwoesting, nie net op die grond waar hy behoorlik grawe nie, maar ook op die punte. Want dié man het spoed, en sommer hope daarvan. Hy was nie verniet op skool ‘n 400- en 110 m-hekkiesatleet nie.
“Ek dink rugby in die toekoms gaan meer spelers soos ek pas. Kyk maar na Nieu-Seeland, Australië en selfs die Waratahs. Hulle flanke is nie moerse ouens nie, hulle is maar 1.8 m soos ek.
“Heinrich Brussouw is tien kilogram swaarder as ek. Ek sal nog in dit ingroei. Maar met my spoed is ek eerste by die bal. As jy eerste daar is, kan die krag later kom.”
Sy naam het hy te danke aan sy broer Willem, wie twee jaar oud was toe Kwagga gebore is. Op die plaas tussen ‘n klomp jagters is die mannetjie gevra wat sy broer se naam moet wees. “Hy het basies net dierename geken en dadelik gesê my naam is Kwagga. So word ek toe van geboorte af Kwagga. Ek het selfs Kwagga op my skoolboeke geskryf, dan het onderwysers nie geweet wie se boek dit is nie,” vertel hy.
Op daai medaljes is Kwagga bitter trots. “Mense besef nie hoe groot die Statebondspele is nie. Dit het my gemotiveer om hard te werk want ek wou ook ‘n medalje op die Olimpiese Spele wen.”
Beteken dit hy sien sy toekoms in Sewesrugby? “Glad nie. Ek sal altyd ‘n vyftienman-speler wees, maar Sewes leer my ongelooflik baie. Dit gee mens visie en help my rugby baie.”
Hy speel tans in Japan, waar spelers die vryheid gegee word om die spel te lees en hulle op die veld uit te leef. “Jy kan jouself uitdruk op die veld. Ek geniet dit baie. Die Wallaby David Pocock is my gunsteling speler, ek dink hy was wêreldklas.”
Kwagga is, soos sy naam tipies aandui, ‘n plaaskind. Sy ‘regte’ huis is op ‘n plaas buite Lydenburg, waarheen hy so gereeld as moontlik heen ontsnap vir vars lug en groot ooptes.
Dié Kwagga sal nie sommer gou uitsterf nie, inteendeel, die manne wat weet, het jare gelede voorspel dat sy strepe eendag ‘n definitiewe Groen en Goud kleur gaan hê.