Die Edrich Krantz-verhaal is aangrypend omdat hy 45 jaar gelede ‘n drie gedruk het wat ‘n toets teen die 1976 All Blacks beklink het, maar tog het die Springbok-keurders hom weggelaat vir die daaropvolgende toets...
Dit was ‘n gevoelige knou vir die 21-jarige vleuel, en hy sou eers weer vyf jaar later in ‘n toets vir Suid-Afrika opdraf.
Krantz sou nietemin sy merk laat in SA rugby en die feit dat rugby nie allesoorheersend in sy lewe was nie, maar dat geneeskunde ook ‘n vername rol gespeel het, het gehelp om die teleurstelling van 1976 te oorkom.
Dit was juis as gevolg van sy loopbaan dat dr Edrich Krantz op die betreklike jong ouderdom van 27 jaar reeds sy rugbystewels opgehang het, in 1981, en hy is 40 jaar later steeds in die geneeskunde doenig.
“Ek is ‘n mediese navorser by FARMOVS, die mediese navorsingsentrum van die Universiteit van die Vrystaat,” vertel hy. “Ons navorsing fokus hoofsaaklik op generiese middels.” Voorheen was hy vir 25 jaar ‘n algemene praktisyn in Bloemfontein.
Nog iets wat Krantz na aan die hart lê is sy gesin. Edrich en Elfreda is 45 jaar getroud en het vier kinders, en sewe kleinkinders. “Freda-Marie is ‘n spraakterapeut; Leonard is ‘n algemene praktisyn in Barrhead, Kanada; Elsche is ‘n wiskunde onderwyseres; en Friedrich is ‘n wildbewaarder by Phinda in KwaZulu-Natal.
“Moderne tegnologie maak dit moontlik om gereeld met Leonard-hulle in Kanada te kommunikeer, maar dit bly nie lekker nie. Hulle kom darem een keer ‘n jaar kuier; ons beplan juis om eerskomende Januarie weer as ‘n familie saam by Waenhuiskrans vakansie te hou.”
Leonard het, soos sy pa, vir die Vrystaatse laerskool- en hoërskool-Cravenweekspanne uitgedraf, in 1994 en 1999, en ook vir Maties en Shimlas gespeel.
Edrich Krantz is op 10 Augustus 1954 in Senekal gebore, maar het in Bloemfontein grootgeword en in 1972 aan Hoërskool Sentraal gematrikuleer. Die Springbokdroom het ‘n dekade vroeër reeds posgevat, toe sy pa die agtjarige Edrich saamgeneem het na ‘n toets tussen die Springbokke en Britse Leeus op die Vrystaat-stadion in 1962.
“Die ongelooflike atmosfeer en Mannetjies Roux se twee onvergeetlike drieë het iets getrigger,” onthou hy.
Krantz sou sy eerste smakie van groen en goud 13 jaar later ondervind, as kaptein van die Oribi’s - die eerste SA O/21-span, wat na Suid-Amerika getoer het in 1975. Dié span sou Springboklegendes oplewer, soos Theuns Stofberg, Gysie Pienaar, Divan Serfontein, Rob Louw en Schalk Burger Snr.
“Hoewel ons in Buenos Aires geland het, kon ons as gevolg van politieke druk nie in Argentinië speel nie, en was die toerwedstryde teen spanne van Paraguay, Uruguay en Chili.”
Toe breek die 1976-seisoen aan wat een van ongekende hoogtes, maar ook ‘n laagtepunt, in Krantz se loopbaan, en lewe, sou wees.
“Ek en Elfreda is daai jaar verloof en getroud,” onthou hy. “‘n Mens het maar jonk getrou, omdat jy bang was jy moet weermag toe gaan en kom nooit tot trou nie!
“Jong ouens soos ek, Theuns, Gysie, Dirk Froneman, De Wet Ras en Eben Jansen het daardie seisoen gereeld vir Vrystaat gespeel, saam met ouer garde soos Gerrie Germishuys, Joggie Jansen en Klippies Kritzinger, wat soos ‘n pa vir ons was.
“Daai Vrystaatspan was vol karakters, en platjies soos Gerrie Sonnekus en Piet Strydom. Wyle Martiens le Roux en Wouter Hugo het ook vir groot vermaak gesorg met hulle sidesteps en dummies wanneer ons touch gespeel het voor oefeninge!”
Dit was natuurlik die jaar van die All Black-toer na Suid-Afrika, en Krantz het in die stilligheid gehoop om gekies te word vir die Gaselle-span (SA O/23).
“Ek was teleurgesteld toe ek dit nie maak nie,” erken hy. “Kort daarna het Vrystaat teen Natal in Bloem gespeel, en die aand het ons almal saam gaan fliek.
“Tydens die pouse is die Springbokspan vir die eerste toets in Durban aangekondig, en ‘n mens kon my met ‘n veertjie omslaan toe ek verneem dat ek op regtervleuel ingesluit is!
“Op skool het ek flank gespeel en Jan Ellis was een van my groot helde. Skielik sou ek in ‘n toets saam met hom speel!”
Krantz vier sy toetsbuiging met Suid-Afrika se naelbyt-oorwinning van 16-7, en druk in die doodsnikke die drie wat ‘n sege buite Nieu-Seeland se bereik stel.
“Paul Bayvel het om die steelkant gebreek en toe Sid Going hom net-net skaapvang, was ek byderhand om die bal op te pik en in die hoekie oor te duik,” onthou Krantz.
“Dit was ‘n grootse oomblik, te groot om te beskryf. Ek het op die bal bly lê, want ek kon dit nie glo nie, todat John Williams my aan die broek opgetrek het!” Dit was ewe moeilik om te glo toe Krantz ‘n paar weke later uitgelaat is uit die Springbokspan vir die tweede toets...
“Tussen die lyne was dit duidlelik dat Chris Pope geoormerk was om in die eerste toets reeds te gespeel het, op grond van sy uitstekende vertoning vir WP teen die All Blacks, maar toe het hy beseer geraak. Die keurders daardie jare was maar konserwatief en het hom teruggebring nadat hy van sy besering herstel het. “Maar, dit vat nogal aan ‘n ou, veral ‘n jong ou...”
Gelukkig kon Krantz sy 1976-seisoen op ‘n hoë noot afsluit met Vrystaat se historiese sege van 33-16 oor WP in die Curriebeker-eindstryd. Hy druk die drie van die wedstryd, nadat bykans die hele Vrystaat-span hanteer het.
“Ek het nooit werklik besef hoe lank daai drie was nie, todat die ouens onlangs weer ‘n video daarvan op WhatsApp versprei het. Die beweging het met ‘n teenaanval deur Gysie begin, en toe ek die bal ‘n tweede keer ontvang was die doellyn oop en het ek bloot aanhou hol tot onder die pale...”
Na nog twee eindstryde vir Vrystaat (1977-78), vertrek Krantz Pretoria toe vir militêre diensplig. En, in 1980 druk hy twee drieë vir die Ligbloues in hulle slagting (39-9) van WP in die Curriebeker-finaal.
Dié vertoning bring hom opnuut onder die aandag van die nasionale keurders, en in 1981 word hy gekies vir die Springboktoets teen Ierland in Kaapstad, sowel as vir die veelbesproke betogtertoer na Nieu-Seeland.
“Ek was bevoorreg om afrigters soos Nic Boje, Nelie Smith en Buurman van Zyl te gehad het,” meen hy. “Buurman was egter uniek; hy het met ‘n ou se kop gewerk. Boonop was ek topfiks om dat ek in die weermag was, en die keurders het groterig vleuels gesoek vir die nat velde in Nieu-Seeland.”
Krantz skop die Springboktoer af met ‘n puik driekuns in die openingswedstryd teen Poverty Bay, en sou ‘n totaal van vyf drieë op toer aanteken. Hy speel egter nie in die toetse nie. “Dit was ‘n teleurstelling, maar Ray Mordt was op daardie stadium waarskynlik die beste regtervleuel in wêreldrugby.”
Terug in Suid-Afrika, besluit Krantz om op te hou speel as gevolg van sy mediese verpligtinge. “Ek moes die volgende jaar in Kroonstad my hospitaaljaar voltooi, en het besef dat dit nie moontlik sou wees om aan te hou speel as ek begin praktiseer nie.”