Die voormalige Vrystaat- en Springbok-flank Eben Jansen was 16 jaar oud toe ouboet Joggie die wind uit die All Blacks se seile gehaal het met sy verpletterende duikslag op Wayne Cottrell in die eerste toets van die onvergeetlike reeks van 1970.
Volgens die jonger Jansen het die plaaslike germeenskap op Griekwastad in die Noord-Kaap nie juis ’n ophef daarvan gemaak nie.
“Ons gesin het maar in die woonkamer op die plaas voor die radio gesit en luister na Gerhard Viviers se uitsending van die wedstryd,” onthou Jansen.
“Dit was eers later, met al die media-blootstelling rondom dit, dat ’n mens die ware impak daarvan besef het.
“Nie eers die skoolhoof het daarvan melding gemaak in die saal nie.”
Joggie en, later, Eben Jansen is die enigste Springbokke wat deur Hoërskool Griekwastad opgelewer is.
Eben Jansen meen egter dat hul oudste broer, wyle Koot, selfs ’n beter rugbyspeler as hy óf Joggie was.
“Koot was 21 jaar ouer as ek,” vertel hy, “maar het nie die geleenthede gehad wat ek en Joggie gekry het nie.
“Ons was sewe kinders, en pa het nog sy broer, wat verongeluk het, se vier kinders ook aangeneem.
“Ek was die jongste, en, aangesien Koot en Joggie altwee rugby gespeel het, het ek basies met ’n rugbybal in die hand groot geword.
“Koot het ook senter gespeel. Hy kon egter net af en toe vir die dorpspan speel, aangesien Pa vir hom ’n boormasjien gekoop het waarmee hy geld moes verdien om kos op die tafel te sit.”
Eben-Haeser Jansen is op 5 Junie 1954 in Griekwastad gebore, en het in st.1 vir die o.11b spannetjie begin rugby speel.
“Omdat die span volgens gewig gekies was, was van die ander manne reeds in st. 6 en 7,” onthou Jansen, wat in st. 9 vir die eerstespan gekies was.
“Hoewel ons kompeterend was teen spanne van die omliggende dorpe, soos Postmasburg en Douglas, was Griekwastad beperk wat getalle betref, en as ’n speler siek was kon ons beswaarlik ’n eerstespan in die veld stoot.
“Ek het gereeld op ’n Saterdagoggend vir die skool flank of agsteman gespeel, en later dieselfde middag op senter uitgedraf vir die dorp.
Na skool, het Jansen militêre opleiding aan 1 Valskermbataljon in Bloemfontein ondergaan, waar wyle Brigadier-Generaal André Bestbier, Springbok-haker van die Vrystaat, sy voertuigparkoffisier en Weermagspanmaat was.
“Dit was ’n opwindende tyd in die Parabats,” vertel Jansen. “Ons het egter nie grensdiens verrig gedurende opleiding nie, en dit was eers later, tydens kampe, dat ons in die operasionele gebied gespring het.
“Dan, skielik, besef ’n mens dat die terroriste op jou kan skiet van onder af…”
Toe Jansen na twee jaar die ‘browns’ weer vir ‘civvies’ kon verruil, het hy landbou gestudeer aan die Universiteit van die Vrystaat, en in 1976, op 22-jarige ouderdom, nie alleen sy senior provinsiale buiging vir Vrystaat gemaak nie, maar was hy ook, saam met Joggie Jansen, een van die Blikoor-helde wat vir die eerste keer in die geskiedenis die Curriebeker kon inpalm met ’n klinkende sege van 33-16 oor WP in daardie seisoen se eindstryd…
“Dit was spesiaal om saam met Joggie vir Vrystaat te kon speel.
“Tyd om vir mekaar jammer te kry, was daar egter nie.
“Vroeër in die seisoen, het ‘n ou een slag my wind uitgeduik, en ek kon beswaarlik asemhaal en glad nie ’n woord uitkry nie.
“Joggie het egter bloot gesê: ‘Kom jong, staan op! Laat ons speel!’”
Vir Eben Jansen was elkeen van die 125 wedstryde waarin hy vir Vrystaat sou speel,’n hoogtepunt, sowel as elke Vrydagaand voor ’n wedstryd.
“Wyle Martiens le Roux was voorsitter van die strafkomitee, en elke Vrydagaand voor ’n wedstryd, wanneer al die klagtes afgehandel moes word, het hy behoorlik ’n show opgesit.
“Martiens het gemaak dat ’n mens uitsien na Vrydagaande.”
In 1981, het Jansen ook groen en goud verwerf toe hy gekies was vir die Springbokspan op die berugte ‘betoegertoer’ na Nieu-Seeland.
“Dit was ’n vinnige storie,” onthou hy.
“Die span was die oggend bekendgemaak, en ’n paar uur later moes ek op ’n vliegtuig klim Johannesburg toe om by die span aan te sluit. Daar was dus nie geleentheid om die oomblik te geniet of te vier nie.
“Die toer self was moeilik, vanweë die betogings, maar, hoewel ’n mens geïrriteerd geraak het daarmee, het ek deurentyd op die rugby probeer konsentreer.”
Dié ingesteldheid het vrugte afgewerp, en Eben Jansen het op 15 Augustus 1981, nes Joggie in 1970, sy toetsdebuut vir Suid-Afrika teen die All Blacks gemaak - in die eerste toets in Christchurch.
Dit sou egter ook Jansen se laaste toets wees.
Nieu-Seeland het gemaklik met 14-9 geseëvier, en hy was een van sewe Bokke wat daarna die trekpas gekry het.
“Dit was nie ’n aangename ervaring nie,” erken hy.
“Die atmosfeer rondom daardie toets was glad nie dit waarna ’n mens jou hele lewe lank na uitgesien het nie.
“Ons moes die aand vooraf in voorstedelike muurbalbane slaap. Die volgende oggend was ons vroeg uit die bed gejaag, want daar was gerugte dat betogers die paaie na die stadion wou afsper.
“Dus moes die toetsspan inderhaas stadion toe vervoer word, waar ons die hele dag vasgekeer in die kleedkamer, met water wat uit die dak gelek het, moes deurbring.
“Dit was allesbehalwe ideale omstandighede waarin ons daardie toets moes aanpak. En, dit teen ’n span soos die All Blacks.
“Ons het verloor en, nadat ons daarvan beskuldig was dat ons nie ons kant gebring het nie, is die klomp veranderinge aangebring vir die tweede toets, wat Suid-Afrika gewen het.”
Dit was ’n frustrerende toer, op en van die veld af, en daarvan kan Jansen getuig na sy onderonsie met die omgekrapte All Black-flank Mark ‘Cowboy’ Shaw in die eerste toets.
“Die Nieu-Seelandse lostrio, met Shaw aan die spits, was redelik dominerend regdeur die kragmeting, ek het op ’n stadium gatvol geraak en my frustrasie op hom probeer uithaal, en, ja, jy ken die res van die storie,” grinnik Jansen, wat deur ’n kort opstopper van Shaw neergefel was.
Jansen het in totaal 10 wedstryde op die Boktoer gespeel, waarin hy vier drieë gedruk het, en vir Vrystaat met onderskeiding aanhou verteenwoordig tot 1986.
In 1987, het hy ’n werksaanbod as landboukundige by Nitrophoska in Stellenbosch aanvaar, en ook 12 keer vir Boland uitgedraf.
Deesdae boer Jansen en vroulief Herma met skape, beeste en perde op ’n plaas tussen Bethulie en Smithfield in die Vrystaat.
“Herma het dressuur beoefen, maar hier op die platteland is dit moeilik om aan kompetisies deel te neem, dus ry sy nou net vir plesier.”
Hul seun Ruben het ’n meestersgraad in Kusingenieurswese behaal, en is meesal in die buiteland werksaam.