Joggie Viljoen het in 1971 die onbenydenswaardige taak gehad om die stewels van Dawie de Villiers vol te staan. Die Springbokkaptein met die kenmerkende blondekop, het die groen-en-goud nr.9-trui van 1962 tot 1970 sy eie gemaak, en was ‘n Bok-ikoon in onvergeetlike reeksoorwinnings oor Frankryk, die Britse & Ierse Leeus, Australië en, natuurlik, die magtige All Blacks.
“Ek het my nooit eintlik oor sulke dinge, soos Dawie se reputasie, gekwel nie,” sê Viljoen. “Buitendien het ek toe reeds teen ‘n rits skrumskakels gespeel wat ‘n mens al jou hel gegee het... baie van hulle wat nooit kans gekry het om verder te kom nie.”
Viljoen, toe 26, was inderdaad geen piepkuiken nie. In 1970, die jaar toe De Villiers vir Suid-Afrika tot hul skittersege van 3-1 oor die Kiwi’s gelei het, het Viljoen homself verewig as ‘n Griekwas-legende, toe die Poubloues die Curriebeker ingepalm het met ‘n skoksege van 11-9 oor Noord-Transvaal in die eindstryd.
Dit was juis ‘n breekslag van Viljoen wat tot een van vleuel Buddy Swartz se twee drieë gelei het. “Ons vaste voorspelers was gewillig, maar uiteraard nie dieselfde gehalte as Noord-Transvaal s’n nie,” onthou hy. “Dus moes ons hulle probeer ore aansit met allerlei truuks in die lynstane en skrums.
“Ek spot altyd dat Piet Uys, wat teen my skrumskakel gespeel het, soveel gemak agter daardie bulpak geniet het, dat hy ‘n vuurtjie kon aansteek, agteroor sit en ‘n biertjie drink terwyl hy vir die bal gewag het om uit die skrum te kom.
“Ons agterlyn was egter briljant, en hoe dan anders met Mannetjies Roux in die span? “As kaptein, het Mannetjies nooit veel gepraat nie, maar wanneer hy wel gepraat het, het alles sin gemaak.
“Daar was die keer toe Mannetjies volgens tradisie ‘n lapelwapentjie aan Tom Kiernan, kaptein van die Britse & Ierse Leeus, moes oorhandig op die onthaal na die Britte se wedstryd teen Griekwas in 1968, en hy gesê het: ‘I want to ask the captain to come and get his weapon...’
“Op losskakel was Piet (Visagie) natuurlik ewe briljant, sonder om flashy te wees. “Hy het nooit van die torpedo-aangee gehou nie. Hy wou vinnig die bal ontvang. “Piet het altyd gesê ek kan selfs die bal na hom toe rol, solank ek dit net vinnig rol.”
Die vermoë om die bal flink uit te gee, het Viljoen oorgedra aan sy seuns, Albert, wat 20 jaar gelede vir die Olifante (OP) diens gedoen het op skrumskakel, en Roelof, oftewel Joggie jr, wat die Stormers se nr.9-trui gedra en in 1996 met die Springbokke getoer het.
Hy het daarna Nieu-Seeland toe geskuif, waar hy met onderskeiding vir Northland, die Hurricanes en Manawatu uitgedraf het.
Die Viljoen-vaardigheid het selfs deurgesyfer na die All Blacks toe.
In ‘n onderhoud met NZ Herald in 2012, het Aaron Smith, wat die swart nr.9-trui ‘n rekord 97 keer aangetrek het, die volgende gesê: “Ek was gelukkig op skool dat Joggie Viljoen jr, wat oor ‘n uitstekende aangee beskik het, my aangemoedig het om aan klein goedjies aandag te gee... soos driloefeninkies om my gewrigte sterk te maak. Ek meen dat ek meer van ‘n gewrigaangee as ‘n kragaangee het...”
Joggie Viljoen sr (77) en vroulief Dorothy woon in die Louis Dubb-aftreeoord in Kabegapark. Hulle was altwee voorheen getroud en het gesamentlik agt kinders.
Benewens Albert en Joggie jr, is daar ook Jacques, Christine, Kate, Natasha, Bjorn en Justin, asook 12 kleinkinders en twee agterkleinkinders.
Joachim Frederick Viljoen is op 14 Mei 1945 in Kaapstad gebore, maar het skoolgegaan op Vanrhynsdorp in die Namakwaland. “Ek het gereeld ook vir die dorp klubrugby gespeel,” onthou hy, “en soms teen Jannie Engelbrecht, wanneer hy plaas toe gekom het met universiteitsvakansie en vir Klawer gespeel het.
“Na skool het ek opleiding aan die Polisiekollege ondergaan, en daarna was ek uitgeplaas na Grahamstad, waar ek vir Albany gespeel het met die voormalige Springbok Clive Ulyate, ‘n uiters slim speler, as my losskakel.
“Op ‘n dag, in 1966, terwyl ek nog beat geloop het, het die stasie my per radio verwittig dat ek Port Elizabeth toe verplaas was. Ek het Woensdag daar aangekom, Donderdag saam met Polisie geoefen en Maandag gehoor dat ek vir OP gekies was.”
Viljoen het sy provinsiale debuut vir OP gevier met ‘n drie teen SWD in George, en in 1968 druk hy ook ‘n onderskepdrie toe OP vir die eerste keer daarin kon slaag om WP, met ‘n halfdosyn Bokke in hul geledere, in ‘n Curriebeker-wedstryd op Nuweland te klop (15-3).
“Na ‘n oorwinning oor Griekwas, het hulle my ‘n aanbod gemaak,” vertel hy. “Nadat ek daaroor gewik en geweeg het, het ek in 1969 die polisie gelos en saam met Piet van Deventer en Jannie van Aswegen die sekuriteit gehardloop op die Beeshoek-myn en vir Jumbo Harris se Ammosal gespeel.”
Na twee jaar in die kleure van Griekwas, vier Viljoen ook sy Springbok-debuut met ‘n drie, teen Frankryk op die Vrystaat-stadion in Bloemfontein.
Die tweede toets in Durban het in ‘n woeste vuisgeveg ontaard nadat Bok-heelagter Ian McCallum laat geloop was, en, hoewel die kleinste speler op die veld, was Viljoen té na aan die aksie om onbetrokke te gebly het. “Ek moes na myself kyk; ek kon nie vir die voorspelers wag om te help nie. Gelukkig kon ek ook vinnig weghardloop as dit moes.
“Onderonsies in die polisie het my ook geleer om na myself om te sien. “Soos byvoorbeeld toe die moordenaar Solomon Kariem in Port Elizabeth ontsnap het en ons hom weer in Grahamstad vasgetrek het. Toe ek by hom agter in die vangwa inklim, het hy my so hard met die kop geslaan dat ek op my agterstewe beland het.
“Die tipe van goed het ‘n mens meer aggressief gemaak.” Viljoen se ervaring as polisieman het ook gehelp dat hy die aggressiewe betogings op die onoorwonne Boktoer na Australië in 1971 kon verwerk.
“Een aand terwyl ‘n groepie van ons in Gerhard Viviers se hotelkamer gesit en kuier het, het die betogers weer buite die hotel begin lawaai opskop,” onthou hy. “Toe gaan ek in my Springbokbaadjie uit op die stoep en sing Die Stem vir hulle.
“Van Gerhard gepraat, ek het hom in Canberra, waar die betogers selfs bomdreigemente gemaak het, lelik die skrik op die lyf gejaag met ‘n speelgoed tydbom wat ek gekoop en in sy kamer ingerol het.
“Vroeg op die toer, in Adelaide, het lede van die span by privaatmense oorgebly. Daar het Hannes Marais (kaptein) een aand saam met sy gasheer gaan uiteet. “Toe hulle die restaurant verlaat, het polisie buite met betogers slaags geraak, en een van die polismanne het ‘n betoger na Hannes toe gestamp en geskree: ‘All yours!’
“Hannes het geskrik, maar in die proses wat hy met sy arm probeer keer het, het hy die betoger in die gesig getref. “Vir die res van die toer was ‘n prokureur op Hannes se spoor om ‘n dagvaardiging aan hom te oorhandig, maar met die span se hulp kon Hannes hom telkens ontduik. Piet Greyling het selfs toesprake namens Hannes waargeneem.
“Uiteindelik, die Sondag toe ons terug Suid-Afrika toe sou vertrek, het die prokureur vir Hannes op die lughawe gekry, maar die wet het hom verbied om op ‘n Sondag die dagvaardiging te oorhandig.”