Dat hy dalk as ‘n vergete Springbok beskou kan word sou ‘n onreg doen aan hierdie uiters talentvolle speler. Die feit dat Gavin Johnson (58), kort nadat hy deel was van Suid-Afrika se triomfantelike Wêreldbekergroep in 1995, noordwaarts uitgewyk het na Zambië, waar hy vir meer as twee dekades ‘n uiters suksesvolle safaribesigheid bedryf het, kon daartoe bygedra het dat mense in ‘n mate van hom vergeet het.
“Ek en my vrou, Penny, wat sopas getroud was, het besluit om ‘n wildsherberg op die oewers van die Zambesi-rivier te bou nadat ek ophou speel het,” vertel die voormalige heelagter en vleuel van Transvaal, wat in slegs sewe toetse vyf drieë gedruk en 86 punte aangeteken het. Gavin en Penny het vir Mutemwa-herberg en Royal Barotse-safaris opgebou tot ‘n internasionaal populêre vakansiebestemming, asook ‘n waardevolle werkverskaffer vir die plaaslike gemeenskap.
Vir Johnson, wat in Louis Trichardt gebore is en op ‘n plaas grootgeword het, was dit ‘n “hartsbegeerte” om ‘n lewe in die bos te lei. Hy het ‘n absolute passie vir die natuur en buitelewe. “Dit was egter alles te danke aan Penny, wat, benewens die die administratiewe take van ons toerisme-besigheid wat sy behartig het, ook aldrie ons dogters tuis onderrig het,” vertel hy.
“Penny het ‘n ongelooflike rol in my lewe gespeel.” “Sy het reeds twee van die meisies deur skool gehelp. Shan bly in Harare, Zimbabwe, waar sy intens betrokke is by jeugleraarskap, en Cayla is op Stellenbosch waar sy, soos haar ma (‘n gekwalifiseerde Wiskunde-onderwyseres), onderwys studeer.
‘Tammy het nog ‘n paar jaar oor, en is op hoërskool.” Die rede hiervoor is dat die Johnsons weer terug is in Suid-Afrika.
“Ons het die groot besluit ’n paar jaar gelede geneem, omrede my pa, wat by Louis Trichardt boer, begin aanstap in jare en derhalwe hulp benodig met die boerdery,” verduidelik Johnson. “Ons het iemand aangestel om na die toerisme bedryf in Zambië om te sien en is nou permanent woonagtig op die plaas.”
Dit was juis in Louis Trichardt dat die rugbysaadjie geplant was - amper 50 jaar gelede. “Hier begin seuntjies op ‘n baie jong ouderdom reeds rugby speel, en ek was geseënd om entoesiastiese onderwysers te gehad het wat ‘n liefde vir die spel by ons gekweek het.”
Op hoërskool, aan Capricorn High in Pietersburg, het Johnson egter meer in krieket as rugby uitgeblink, en, as toporde-kolwer en medium tempo-bouler, provinsiale klere vir die eertydse Verre Noord verwerf. Om die waarheid te sê, hy het na matriek nie rugby gespeel nie en dit was eers gedurende die tweede jaar van sy militêre diensplig by die Lugmagbasis Hoedspruit dat die ovaalbal weer in sy hande beland het.
“Die plaaslike Bosveld Pumbas Rugbyklub het spelers benodig en ek het gaan uithelp,” onthou hy. “Ek was ‘n laat bloeier en, omdat ek toe sterker en vinniger geword het, het ek besef dat ek nogal kan speel.
“Na die Lugmag is ek Pretoria toe om landbou te studeer, en het ek by Harlequins Rugbyklub aangesluit. Daar het Kitch Christie my in die derdespan raakgesien en reguit eerstespan toe geskuif het.
“Na vyf jaar van Carltonliga-rugby speel, waartydens ek ook vir Noord-Transvaal ‘B’ uitgedraf het, het Kitch, wat teen daardie tyd vir Transvaal afgerig het, my genooi om by die Transvaalse oefengroep in te skakel. “Dit het my gepas omdat ek toe in Johannesburg begin werk en bly het.”
Dit was aan die begin van 1993. In Oktober daardie jaar is hy een van Transvaal se helde in die Curriebeker-eindstryd, en skaars ‘n maand later maak hy, op 27-jarige ouderdom, sy toetsbuiging in Argentinië!
“Die 1993 Curriebeker-finaal was die grootste gebeurtenis van my loopbaan,” meen Johnson, wat kort na rustyd sou deurglip vir die eerste drie van die wedstryd. “Joel Stransky het egter met vyf strafdoele vir Natal steeds laat voorloop met 15-14, met skaars ‘n paar minute speeltyd oor,” onthou hy.
“Ons steel toe ‘n lynstaanbal, wat Johan Roux hoog bokant die Natal kwartgebied geloods het, Cabous van der Westhuizen kon die bal nie bemeester nie en Uli Schmidt het dit deurgeskop om die wendrie te druk.
Ek sal dit nooit vergeet nie.” Johnson het 16 van Transvaal se 21 punte aangeteken.
Vier weke later, op 13 November 1993, vier hy sy Springbok-debuut op heelagter met 22 punte, wat weer ‘n drie insluit en Gerald Bosch se Springbok-rekord van 22 teen Frankryk in 1975 ewenaar, in ‘n oorwinning van 52-23 oor die Poemas in Buenos Aires. “Ek was op toer met die SA Barbarians in Brittanje, toe ek die oproep kry om Chris Dirks, wat beseer geraak het, in Argentinië te vervang. Dit was voorwaar ‘n ongelooflike tyd van my lewe!”
Van ongelooflik gepraat, Johnson se volgende verskyning in groen en goud was die daaropvolgende jaar in die derde toets teen die All Blacks in Auckland, en hy teken 13 van Suid-Afrika se punte aan, insluitende nog ‘n drie, in ‘n gelykopstryd van 18-18. “Ek het vleuel gespeel in James Small se plek. Om met die All Blacks kragte te meet, en boonop ‘n drie te druk, is ‘n wonderlike herinnering. “Net jammer ons kon nie wen nie...”
Hoewel Johnson in slegs sewe toetse speel, verloor hy nie één nie. In ‘n opwarmingswedstryd vir die Wêrelbeker-toernooi in 1995, behaal hy ‘n driekuns en stel hy ‘n nuwe rekord van 28 punte op in die oorwinning van 60-8 oor Samoa.
Hy maak deel uit van Suid-Afrika se Wêreldbekergroep, maar, met André Joubert wat legendariese spel op heelagter lewer, kry hy kans in slegs drie wedstryde - teen Roemenië, Kanada en weer Samoa - en neem hy die onvergeetlike eindstryd op Ellispark van die reserwebank waar.
“Dit was ‘n enorme voorreg vir elkeen van ons wat betrokke was in 1995,” erken hy. “Ongelukkig is daar nie plek is vir almal in die beginvyftiental nie, met die ouens wat op vorm was wat in die finaal kon speel. En, hulle het hulself uitstekend van die taak gekwyt.”
Johnson erken die beduidende rol wat wyle Kitch Christie, nie alleen in die Wêreldbeker-triomf van 1995 nie, maar ook in sy persoonlike loopbaan gespeel het. “Hy het die talent in my bespeur en geglo in my vermoë. “Kitch was ‘n uitstekend georganiseerde man met ongelooflike insig in die spel. Hy het oor die vermoë beskik om swakhede in die opposisie se mondering bloot te lê en daarvolgens ‘n slinkse wedstrydplan uit te werk. “Bowenal, het Kitch geglo in dissipline en fiksheid. Die Springbokgroep van 1995 was superfiks...”