Supa gesels met die All Black-temmer van 1976, Johan Strauss, op Margate se strandfront.
Strauss is dalk ‘n bietjie gryser en sonder sy kenmerkende bakkebaard maar weeg op 71-jarige ouderdom steeds soos in sy speeldae om en by die 110 kilogram. Deesdae is dit sy sakeonderneming as ‘n ontwikkelaar veral in Kokstad en Matatiele wat hom fisiek in ‘n goeie toestand hou.
Mens kan in jou geestesoog sien hoe ‘n jong Strauss eers met Perry Harris en toe Kent Lambert se gal gewerk het. Dit was die twee toetse waarvoor hy onthou word maar hy het in ‘80 ook op die Wanderers teen die Suid-Amerikaners geskrum.
Hy het as ‘n 20-jarige bulletjie die eerste van sy 105 wedstryde vir Transvaal gespeel en na die Springbokproewe van ‘81 halt geroep. Toe het hy hom in Port Shepstone op die strandfront gevestig waar hy en sy vrou Cecilia vandag steeds woon.
Behalwe sy drie toetse waarin hy elke keer aan die wenkant was, het hy ook in 72 saam met die Gaselle in Argentinië getoer, vir die SA XV-tal in 75 teen teen Frankryk gesak en natuurlik vir sy geliefde Diggers uitgedraf.
Toetse was in sy speeljare so skaars soos hoendertande en dit was eerstens Diggers en sy pêlle wat hom gemotiveer het. Kevin de Klerk en Richard Prentis, twee van die vier Diggers in die 80-toetse se vaste vyf, is vandag steeds sy groot vriende.
Hy het op daardie Gaselletoer van ‘72 sy 21e verjaardag gevier maar het weens maaggriep en Klippies Kritzinger wat in ‘n lynstaanoefening op sy enkel getrap het, net vyf keer gespeel. Die toerspan het ‘n dag of twee na die 72-eindstryd teen Oos-Transvaal op die vliegtuig geklim. Hy was in daardie Gerald Bosch-eindstryd op die bank en dit is die enigste keer dat sy naam op die Curriebeker pryk.
Hy praat soos ‘n ware jintelman nie oor sy teenstanders nie maar daardie San Isidro-skrum het met hul bejada tog indruk op hom gemaak. Hy het in 74 twee keer en in 80 teen die Britse Leeus geskrum, vir die Kwaggas as loskop teen Willie-John McBride se toerspan teen Mike Burtonnen toe vir die Rooibontes teen Mighty Mouse McLaughlin.
Sy seun JC het jare later potensiaal getoon om as ‘n vaskop in sy pa se voetspore te loop maar ‘n hartprobleem het sy loopbaan kortgeknip. Pottie, afgelei van een van sy voorname, hou nie van die skielike aandag nie maar hoe langer die gesprek duur hoe meer onthou hy.
Na die fotosessie klem hy Hans Saestad se boek oor die Gaselle kosbaar in sy regterhand vas. Dit was lekker om ‘n nederige legende te ontmoet, gelukkig was ons te oud om te skrum.