Vir ’n slot om ’n rekord 44 drieë in 108 wedstryde vir Westelike Provinsie in te ryg, wil gedoen wees. Dis presies wat Hennie Bekker van 1974 tot 1985 vermag het.
Bekker het in 1981 ook ’n binnetoe-aangee van Ray Mordt op volle vaart gevang om oor te storm in die hoekie vir Suid-Afrika se enigste drie teen Nieu-Seeland in sy debuut-toets, in Christchurch.
Die merkwaardigste drie wat hierdie boontjiepaal egter ooit gedruk het, was waarskynlik in die finaal van die heel eerste Nasionale Klubtoernooi op Kingspark, in Durban, in 1975. Dit was ’n aangrypende eindstryd, voor bykans 30 000 rasende toeskouers, met Maties wat vroeg in die tweede helfte reeds ’n voorsprong van 22-9 opgebou het, maar Durban Collegians wat verbete teruggeveg het om die telling op 22-22 te staan te bring, met speeltyd verstreke.
Dit was toe die vleuel Alan Read ’n sensasionele teenaanval van diep binne die Maties se halfgebied van stapel gestuur het, en, nadat feitlik die hele span hanteer het, het Bekker oorgebars vir die wendrie om Maties te kroon as Suid-Afrika se eerste Klubkampioene.
“Collegians was die gunstelinge vanweë die tuisveldvoordeel, en dit was ’n verskriklik harde wedstryd,” onthou Bekker. “In die foto waar ek met die bal oor die doellyn geval het, verskyn nie minder nie as 15 van die 30 spelers op die veld - sowel uitgelate Maties as verslae Collegians verdedigers wat oor die veld gestrooi lê.”
Bekker het die vorige jaar in Stellenbosch gearriveer vanaf die Paarl, waar hy aan die Onderwyskollege begin studeer het en in 1973 sy senior provinsiale debuut vir Boland gevier het deur ’n reuse strafskop deur die pale te jaag vir die ‘Wynboere’ om gelykop te speel met London Counties, wat in Suid-Afrika getoer het.
“As ’n tiener was Mannetjies Roux en Frik du Preez my helde, en verál Frik, omdat hy nie net kon hol met die bal nie maar ook pale toe skop, was ’n inspirasie,” vertel Bekker, wat op Nuwerus in Namakwaland gebore is maar skoolgegaan het aan JG Meiring in Goodwood.
“Ek het nogal gereeld geskop in my jonger dae, maar by Maties, met ’n dodelike stelskopper soos Robbie Blair in die span, was die bietjie skopvernuf wat ek gebied het totaal oorbodig.”
Legendariese breiers soos Kobus Neethling en Piet du Toit het grootliks bygedra tot Bekker se rugby-ontwikkeling by JG Meiring - hulle het daardie jare selfs vir die Hoër Jongenskool Paarl en Paarl Gimnasium die loef afgesteek - maar dit was toe hy in Stellenbosch aangeland en deur dr. Danie Craven onder hande geneem is, dat die jong reus daadwerklik begin uitstyg het.
“My pa is gedurende my matriekjaar oorlede, en dus was Dok Craven op Stellenbosch soos ’n vaderfiguur,” meen Bekker. “Hy het ’n ongelooflike invloed op my uitgeoefen, en nie slegs wat rugby betref nie. Hy het ook vir my as mens geweldig baie beteken.
“Ek was lank kaptein van Maties, en Dok, dikwels nog in sy kamerjas, sou ons gereeld Sondagoggende oornooi vir tee om nabetragting te doen oor die vorige dag se wedstryd.”
In 1977, moes Bekker, nadat hy graad gevang het, twee jaar van nasionale diensplig verrig, en dis hoe dit gekom het dat hy twee seisoene saam met Ross van Reenen, nuwe HUB van die Cheetahs, op slot sou sak vir Vrystaat - onder andere in twee agtereenvolgende CC-finale.
“As ’n onderwyser was ek veronderstel om opleiding aan die Infanterieskool in Oudtshoorn te ondergaan,” vertel hy, “maar Barry Wolmarans, met wie ek saam vir Boland gespeel het vantevore, het gereël dat ek 3SAI toe opgeroep word en sodoende vir Vrystaat kon speel. “Ek het die rugby in die Vrystaat terdeë geniet en wonderlike pelle gemaak. Ons het oor ’n besonderse sterk Weermagspan beskik, onder afrigting van kmdt. Frank Bestbier, en ’n einde aan Shimlas se oorheersing van klubrugby in die Vrystaat gebring deur die Stadsbeker in 1978 te wen.”
Bekker het teruggekeer Kaap toe in 1979, en skaars twee jaar later sy buiging vir Suid-Afrika gemaak op die omstrede ‘betogertoer’ na Nieu-Seeland in 1981. “Dit was ’n moeilike toer, dis gewis,” beaam Bekker. “Terselftertyd was dit nietemin ’n fantastiese geleentheid om daar te kon toer, en ek sou enige keer weer, selfs onder dieselfde moeilike omstandighede, so ’n toer wou onderneem.
“Die wyse waarop daardie taai tye vir die ouens in ’n hegte eenheid saamgesnoer het was verál spesiaal.” Bekker se 29ste verjaarsdag, op 12 September 1981, het terloops saamgeval met die derde, beslissende en dramatiese ‘Meelbomtoets’ teen die All Blacks op Edenpark in Auckland. “Ek het die volgende dag, êrens in die lug op ons vlug na die VSA, vanweë die tydsones, weer verjaar,” lag Bekker, wat ongelukkig net-net nie die geleentheid met ’n oorwinning, asook ’n reeksoorwinning, oor die aartsvyand kon vier nie.
“Ons was verbysterd toe die skeidsregter, Clive Norling, ’n vryskop teen ons toegeken het by die laaste skrum nog voordat ons gesak en Divan (Serfontein) eers die bal ingegooi het. Toe hy boonop die vryskop in ’n strafskop verander het, 10 m nader vir All Black-heelagter Alan Hewson om die wenskop oor te sit, was dit absoluut hartverskeurend.”
Die daaropvolgende jaar het Bekker en sy mede WP-makkers in die Bokspan egter die soet smaak van glorie gesmaak toe die Kapenaars die Curriebeker in 1982 ingepalm het met ’n skittersege van 24-9 oor die eens magtige Noord-Transvaal in die finaal op Nuweland. Dit was die eerste van vyf agtereenvolgende CB-welslae, wat WP se glorie-era van die vroeë tagtigerjare (1982-86) sou inlei.
“Dit was ook die eerste keer in 16 jaar dat WP die Curriebeker kon inpalm,” voeg Bekker by. “Daardie was ’n uitsonderlike WP-span. Met soveel ondervinding in ons geledere het die span oor die vermoë beskik om op die veld besluite te neem, te verander en aan te pas om wedstryde te wen. “En, daai ouens is nou, 40 jaar later, nog pelle.”
Wat opponente betref, beskou Bekker vir wyle All Black-slot Andy Haden as sy moeilikste teenstander op internasionale vlak, terwyl hy plaaslik jaar na jaar met die Noorde se Louis Moolman en Moaner van Heerden moes kragte meet in die CB-arena.
“Ek het ook die grootste agting vir Kevin de Klerk van Transvaal; hy was ’n uitstekende slot.”
Wanneer dit by karakters van die spel kom, is daar een naam wat vir Bekker uittroon. “Cliffie Etzebeth. “Hy het ons almal aan die gang gehou, maar het ook ’n ongelooflike hart gehad. Sy begrafnis was ’n bewys van hoeveel mense se lewens hy aangeraak het.”
Bekker het, in sy jarelange hoedanigheid as hoof van WP se Skool van Uitnemendheid, toevallig vir Etzebeth se neef, Eben Etzebeth, gewaar waar dié tussen die B- en C-spanne se agterspelers rondgehardloop het by Hoërskool Tygerberg. En, die res is, soos hulle sê, geskiedenis. “Ons het ’n hele paar manne ontdek, en die lekkerste is wanneer jy iemand opspoor waarvan niemand geweet het nie,” meen Bekker. “Eben was ’n unieke geval; niemand het gedink dat hy sou deurkom nie.”
Bekker se eie seun, Andries Bekker, het natuurlik self in 29 toetse op slot gesak vir Suid-Afrika.
Hennie en Renetha Bekker, wat reeds 45 jaar getroud is, het nog ’n seun, De Wet, wat vir WP o.20 verteenwoordig het, klubrugby gespeel het in Christchurch, Nieu-Seeland, en die afgelope 20 jaar ’n goudsmid is in Belfast, Noord-Ierland.
Deesdae hou Hennie Bekker homself besig met ’n bietjie houtwerk, asook wyn-versnitting op Beyerskloof saam met ses vriende.