22 Februarie 2021
Regdeur die laat Sewentigerjare, was Barry Wolmarans die buksie wat sake dikteer het agter die Vrystaat-agttal, en sy vurige vernuf in die Nr 9-Blikoortrui het aan hom ‘n Springbok-toets in 1977 besorg. Wolmarans het met Albert Heenop van Rapport gesels vanuit Jeffreysbaai, waar hy saam met die familie oor die Kerstyd ontspan. “Ons kom al sedert 1993 hiernatoe,” sê hy. “Dit raak partymaal effens winderig, maar dis die weer by die see en ‘n mens kry heerlike dae ook; dit was nou die dag 33 grade...”
Barry Wolmarans is in 1975 met Beulah de Kock, ‘n nooi met wie hy reeds van skool af ‘gekys’ was, getroud en hulle het drie kinders, en 10 kleinkinders.
“Izelle (40) het Vrystaat-kleure in lewensredding verwerf en besit haar eie swemskool in Bloemfontein,” vertel hy. “Arnelle (38) was ‘n Vrystaat-swemmer en op haar dag vierde beste in die individuele wisselslag in Suid-Afrika. Sy is ‘n logistieke bestuurder in Ballito, KZN, vir OPSI Systems, ‘n maatskappy wat spesialiseer in vervoerbeplanning. “Barry jr (36) besit ‘n reeks Vodashop-winkels in Bloemfontein. Hy het rugby gespeel op laerskool maar daarna besluit om op hokkie toe te spits en Grey Kollege se eerstespan van graad 9 verteenwoordig.”
Barry Wolmarans sr (68) is steeds in Bloemfontein woonagtig, en is in die residensiële konstruksie en ontwikkelingsbedryf betrokke. “Ek is tans juis besig met ‘n ontwikkeling in Danabaai, naby Mosselbaai, waar ons ‘n stuk of agt aftreehuise bou.” Van self aftree is daar egter nog geen sprake nie. “Nee wat, ons bly maar aan die gang,” beaam hy.
Barend Johannes Wolmarans is op 22 Februarie 1953 op Oudtshoorn gebore en het ook op die Klein Karoo-dorp sy skoolopleiding ondergaan. Na matriek is hy na die Wellingtonse Onderwyskollege om as onderwyser te kwalifiseer. “Ek sou aanvanklik by die spoorweg aangesluit het, maar ‘n onderwyser, mnr de Kock, het my oorgehaal om eerder onderwys te studeer.”
Wolmarans het vanuit die staanspoor vir WOK uitgeblink op die rugbyveld en in 1972, op 19-jarige ouderdom, sy senior provinsiale debuut vir Boland gemaak. “Dit was harde rugby, veral vir ‘n laaitie skaars uit skool, maar ‘n uitstekende leerskool,” onthou hy. “Ouens soos ‘Swart Dawid’ van der Merwe, Johnny Joubert, Hennie Niewoudt en ‘Jan Belly’ Thiart, was groot figure, veral in klubrugby, en het my gou touwys gemaak.”
In 1975, na 27 wedstryde in die Boland-trui, is Wolmarans deur die legendariese Sakkie van Zyl gewerf tydens ‘n SA Kolleges-week en het hy Bloemfontein toe geskuif, waar hy ‘n pos gekry het by Grey Kollege Primêr, waar skeidsregter Steve Strydom die skoolhoof was.
Wolmarans het sy “heil gevind” in die Vrystaat waar hy die daaropvolgende dekade die gesogte wit trui 116 keer oor die kop sou trek. Sy 100-tal het vier agtereenvolgende Curriebeker-finale (1975-76-77-78) ingesluit, waarvan die 1976-eindstryd teen WP ongetwyfeld die onvergeetlikste was.
Nie alleen storm hy ‘n skop van Robbie Blair af om Vrystaat se eerste drie te druk nie, die Blikore wen uiteindelik 33-16 om vir die eerste keer in die geskiedenis die Curriebeker in te palm.
“Na die teleurstelling van 1975, toe ons teen Noord-Transvaal verloor het danksy wyle Pierre Spies se drie in die doodsnikke, was dit ‘n heuglike dag en is ek bly dat ek deel van daardie spesiale groep manne kon wees.”
“En, groot geeste was daar baie. “Wyle Martiens le Roux en Wouter Hugo, ons kaptein, was altwee platjies, en so ook Gerrie Sonnekus; altyd gereed om grappies te maak en poetse te bak. Wyle Klippies Kritzinger was ‘n absolute yster, terwyl Piet Strydom ook altyd reg was met ‘n kwinkslag.”
Dan was daar natuurlik De Wet Ras, Wolmarans se Vrystaat-skakelmaat in ‘n rekord 89 wedstryde. “De Wet was ‘n uitstekende losskakel, met goeie hande en ‘n kanonvoet, wat meer erkenning verdien het,” meen hy. “Ons het ‘n uitstekende verstandhouding gehad. “Hy’s ‘n uiters joviale ou, en versot op sjokolade, maar bowenal iemand wat altyd dieselfde was, en nog steeds is.”
In 1977, maak Wolmarans sy toetsbuiging vir Suid-Afrika in ‘n feeswedstryd teen ‘n wêreldspan ter inlywing van die nuwe Loftus Versfeld. “Ek was in die weermag in Bloemfontein, besig met die junior leierskursus by die Pantserskool,” onthou hy.
“Dit was ‘n voorreg om teen Gareth Edwards van Wallis, ‘n wêreldklas skrumskakel, te kon speel, maar my taak was vergemaklik aangesien die Springbokke, as ‘n eenheid, die stryd daardie dag oorheers het.” Suid-Afrika klop die wêreldspan 45-24, maar dit sou Wolmarans se enigste toets wees, hoewel hy ook saam met die Springbokke na Nieu-Seeland getoer het in 1981.
“Ek het deel uitgemaak van die groter groep waaruit die Bokspan in 1973 gekies sou word, maar toe is die beoogde toer na Nieu-Seeland weens politiek afgelas,” vertel Wolmarans. “In 1974, was ek een van drie skrumskakels wat Port Elizabeth toe ontbied is vir die derde toets teen die Britse Leeus, maar die keurders het uiteindelik op Gerrie Sonnekus en Jackie Snyman as skakelpaar besluit, omrede hulle reeds vir Vrystaat saamgespeel het. “Twee jaar later was ek reserwe vir al vier toetse teen die 1976 All Blacks, en, in 1980, was ek gekies vir die derde toets teen die Britse Leeus, maar het my been gebreek in ‘n Curriebeker-wedstryd teen Natal die vorige week.”
Wolmarans het nadat hy in 1975 in Bloemfontein begin werk het, deeltyds verder studeer aan sy BA-graad en na die 1981 Springboktoer na Nieu-Seeland sy meestersgraad in staatsleer verwerf. “Die tema van my skripsie was die ‘politisering van verhoudings tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland, op sportgebied’, met spesifieke verwysing na die tydperk van Dr Verwoerd se omstrede Loskopdam-toespraak in1965 tot na die ‘betogertoer’ in 1981.
“Wat die betogter betref, dit was ‘n fantastiese ervaring, afgesien van wat van die veld af gebeur het,” meen Wolmarans. “Die 1981 Springbokke het fantastiese rugby gespeel, soveel so dat Dok Craven hulle bestempel het as een van die beste spanne wat hierdie land ooit verlaat het. “Ek sal enige tyd weer daardie toer wou meemaak, onder dieselfde moeilike omstandighede...”