Robbie Blair
Full names: Robert
Date of birth: 3 Jun 1953
Place of birth: Johannesburg
School: Grey College
Springbok no: 494
Springbok debut province: Western Province
Physical: 1.78m, 76.0kg
Current age: 71
Test summary: Tests: 1 Tries: 0
Only test: 27 Aug 1977 Age 24 - Flyhalf against World Invitation at Loftus Versfeld, Pretoria
Test history:
DateAgePositionOpponentVenueResultScoreProvince
27 Aug 1977 24Flyhalf World Invitation Loftus Versfeld, Pretoria Win: 45-243 conversions, 5 penalties WP

Robbie Blair: Albert Heenop

Dit was wyle Jack van der Schyff wat na bewering gekla het, “Die dêm ding was pap”. Dié opmerking was met verwysing na die bal waarmee Van der Schyff op hartverskeurende wyse die doelskop verbrou het wat Suid-Afrika die eerste toets teen die Britse & Ierse Leeus in 1955 met 22-23 laat verloor het.

Sowat 21 jaar later het Westelike Provinsie se Robbie Blair dieselfde pyne ervaar toe pap balle veroorsaak het dat hy, teen die All Blacks in 1976, een na die ander poging pale toe opgeneuk het. Ten minste het Blair se verhaal, anders as Van der Schyff s’n, ’n gelukkige einde gehad.

“Ja, ek het daai dag ’n hele klomp gemis,” erken Blair. “Ek het altyd self die balle gepomp voor wedstryde.

“Die 1976-All Blacks het egter nie oor ’n skopper beskik wat om-die-hoek kon skop nie. Sowel Laurie Mains as Bryan Williams het nog met die toon geskop. “En, die Super Springbok-bal toentertyd was hard; ’n mens kon jou toon breek. Dus het die All Blacks die balle gaan sagter pomp.

“Nadat ons opgedraf het, voor 45,000 toeskouers, het ek dit agtergekom en gekla by die skeidsregter, Fonnie van der Vyver. Hy’t bloot skouers opgetrek en gesê: ‘Ons is nou klaar op die veld; speel aan…’”

Blair het met sy eerste agt pogings pale toe misluk. Met slegs 20 minute speeltyd oor, was die All Blacks met 11-0 voor, toe WP-vleuel Bossie Clarke in die duskantste hoekie gedruk het. Blair het weer aangelê pale toe, dié keer van teenaan die kantlyn.

“Ek het uit desperaatheid besluit om die bal so hard as moontlik te sool, en dit het gewerk,” onthou Blair, wie se skop suiwer tussen die pale deurgetrek het om WP se agterstand na 6-11 te laat krimp.

In die doodsnikke, het WP ’n verbete aanval geloods om Chris Pope in die oorkantste hoekie oor te stuur. Met die telling op 11-10 in die All Blacks se guns, het Blair se oomblik van waarheid aangebreek - dié slag van teenaan die anderkantste kantlyn. Weereens het hy die bal met mening getref, en weereens was hy in die kol.

Bykans twaalf jaar vantevore het Blair op basies dieselfde wyse, vanuit die hoekie, vir die o.11-spannetjie van Jan Cilliers Laerskool (400 leerders) in Randburg tot oorwinning geskop teen Laerskool Louw Geldenhuys (1000 leerders).

Die jong Blair het met sy skopvernuf selfs die eertydse Springbok-tydskrif gehaal, waarin hy bestempel was as “Suid-Afrika se eie, toekomstige Don Clarke (legendariese All Black-heelagter en skopkoning)…” Blair meen egter dat ’n driedruk-vraat, nié ’n skopkoning nie, ’n blywende indruk op hom as laaitie gelaat het.

Op 25 Junie 1960 het hy, kort na sy sewende verjaarsdag, op die Ellispark-kantlyn gesit toe Springbok-vleuel Hennie van Zyl twee keer om die einste Clarke gesnel het vir ’n paar onvergeetlike drieë.

“Dit was wonderlik,” onthou Blair, wat 10 jaar later gematrikuleer het aan Grey Kollege en, soos Morné du Plessis en Dawie Snyman, ’n paar jaar voor hom, die Grey-eerstes met onderskeiding verteenwoordig het.

Hy het ook vir Vrystaat op die Nuffield-krieketweek verteenwoordig en uitgeblink op die tennisbaan.

“Toe ek die daaropvolgende jaar op Stellenbosch aanland, het ek egter besluit om op rugby te fokus,” vertel Blair. “Ek was gelukkig om, saam met wyle Gassie Theron, as een van twee losskakels in die o.20-groep van 20 spelers ingesluit te geword het. Gassie is vroeg egter opgetrek tweedespan toe, wat beteken het dat ek die hele seisoen kon deurgaan as eerstekeuse-losskakel.”

In 1973, het Blair nie alleen vir WP o.20 aangevoer nie, maar ook saam met Maties se eerstespan na Europa getoer. “Daar was vyf o.20’s saamgeneem, en toe Dawie (Snyman) na heelagter toe skuif, het ek vir Maties begin losskakel speel.”

Oor die daaropvolgende sewe seisoene sou die donkerkop met die dodelike skopvoet ’n instelling word in die wynrooi nr.10-trui, en was hy ’n kardinale skakel in die Matie-masjien wat van 1977 tot 1979 ’n driekuns Nasionale Klubkampioenskap-titels in Durban sou verower.

Die baasbrein agter die Stellenbosch-suksesverhaal was natuurlik wyle dr. Danie Craven, en Blair was bevoorreg om eerstehands insae te verkry in Craven se geniale denke. “Ek en Bernard Pienaar was op aangewys as opsigters van die rugbyklubhuis, en het ’n kamer in die klubhuis gedeel,” sê hy. “Aangesien Dok se kantoor ook in die klubhuis was, het ons menige oggende vroeg saam met hom gesit en gesels oor ’n koppie tee. Die oubaas was waarlik ’n genie en kon oor enige onderwerp onder die son praat.”

Van 1974 tot 1980 het Blair vir WP in 74 wedstryde verteenwoordig, en ’n rekord 858 punte opgestapel. Sy hoogtepunt in die streeptrui was ongetwyfeld die papbal-triomf oor die All Blacks in 1976, maar ’n paar weke daarna het Blair sy mediale ligament geskeur in ’n Curriebeker-kragmeting met Vrystaat wat hom vir die res van daardie seisoen op die krukkerlys geplaas het.

Toe die Kiwi-breier, Jay Jay Stewart, van Blair se besering te hore gekom het, het hy vir hom ’n nota van medelye tesame met ’n All Black-das gestuur; ’n gebaar wat Blair baie waardeer het. Hoewel ’n taamlike teleurstellende einde aan sy onvergeetlike 1976-seisoen, sou 1977 die kersie op Blair se loopbaan plaas.

’n Springbokspan moes gekies word om teen ’n sterbelaaide wêreldvyftiental te speel ter ingebruikneming van die ‘nuwe’ Loftus Versfeld-stadion op 27 Augustus 1977. Ten spyte daarvan dat top-tiene soos Gerald Bosch, sedert 1974 die gereelde Bok-losskakel; ’n bloedjong Naas Botha, Gavin Cowley, De Wet Ras en Errol Tobias almal ’n kleim probeer afsteek het, was Blair aangewys as die man om die groen-en-goud te dra.

“Gerald het in die voorwedstryd 21 punte aangeteken vir die Junior Springbokke teen die wêreldvyftiental se B-span,” vertel Blair. “Ek was onbewus daarvan, en Morné (kaptein) en Dawie (onder-kaptein) wou my ook nie vertel nie. Toe ek egter met my eerste poging pale toe misluk, het die skare van 65,000 begin skree: ‘Bosch! Bosch! Bosch!’”

Blair het hom nie daardeur van stryk laat bring nie, en was daarna in die kol met drie doelskoppe en vyf strafdoele vir ’n persoonlike bydrae van óók 21 punte in die Bokke se oorwinning van 45-24.

Van 1981 tot 1983 het Blair ook 40 keer vir Transvaal uitgedraf. “Ek het vir die Rembrandt-groep gewerk, en was in 1980 na die hoofkantoor in Johannesburg verplaas,” verduidelik Blair, wat later vir bykans twee dekades bemarkingsdirekteur van Mediclinic was.

In 1984, het hy teruggekeer Kaap toe om in dr. Anton Rupert se kantoor op Stellenbosch te werk, en dis toe dat hy sy 75ste wedstryd vir WP gespeel het - as reserwe in die CB-eindstryd teen Natal. “Ek het vir Van der Stel, wat naby ons kantore in Stellenbosch was, klubrugby gespeel. Niks ernstigs nie.

“Toe die CB-finaal egter aanbreek, het die WP-keurders waarskynlik besef dat Calla (Scholtz) hul enigste stelskopper was,” meen Blair. “Ek is seker dis die enigste rede hoekom hulle vir my op die plaasvervangerbank gekies het. “Ek het teen die einde vir Goggie van Heerden vervang, en daarna is gespot dat ‘Blair die beste wedstryd van sy lewe gespeel het; hy’t nie eenkeer aan die bal geraak nie!’”

Hoewel deesdae afgetree, moker Blair steeds die gholfballetjie met mening vanaf ’n 10 voorgee. Hy is 41 jaar getroud met Elsabé, met altwee seuns, Robbie jr. en Billy, wat pa se tennisvernuf geërf en onder die top-20 tennispelers in die land getel het, en meisiekind Vonnie wat betrokke is in die wynbedryf.

Robbie jr. is hoofbedryfsbeampte vir Premier Interskole.