John Villet het net in twee toetse gespeel teen John Scott se Engelse van 84 en ook in 45 wedstryde vir die WP oor ‘n tydperk van agt uitgedraf.
Hy moes etlike terugslae te bowe kom, ‘n erge beenbreuk, knieligamente en sy skeen was afgeskop. Die goue draad deur die Boksenter se loopbaan is sy veggees om elke keer terug te keer om uiteindelik meeste van sy rugbydrome te verwesenlik.
Daardie twee toetse met Danie Gerber aan sy, twee Curriebekereindstryde aan die wenkant met Willie du Plessis as sy middelveld-vennoot.
Daardie wedstryde en sy vroeë loopbaan by Bellville-rugbyklub en sy terugslae het hom onwetend voorberei vir ‘n baie groter wedstryd. Die wedstryd van die lewe.
Dit was die jaar 2000, op sy verjaardag op 3 November, toe hy die tyding kry dat hy aggressiewe beenmurgkanker het. Die aanvanklike prognose was nie goed nie, drie maande, ses maande? John is nie seker van die tydperk nie. Vir hom was dit net ‘n nommer.
Dit is vandag bykans 20 jaar gelede nadat hy aanvanklik chemo, bestraling en ‘n proses om sy bloed te suiwer ondergaan het. Dit is nou ses jaar sedert hy aan die Universiteit van Stellenbosch afgetree het, en hy lewe nog voluit.
Hy en sy vrou Annelie het onlangs 14 ure lank ‘n piek in die Drakensberge uitgeklim, hulle was twee maande lank by hul kinders in Dubai en vat nou weer die vir ‘n maand lank die Kruger toe.
Hy het vinnig in Heidelberg in die Transvaal by oom Koos Jonck, die oud Rooi Duiwel-haker, afgepak vir ‘n verjaarsdag.
Dit is nou 37 jaar na daardie Engelse toetse en John vat steeds die gapings, en om hom plat te kry is nie maklik nie.