Vyf-en-sestig Curriebeker-drieë.
‘n Rekord 136 drieë in 221 wedstryde vir Vrystaat.
‘n Suid-Afrikaanse eersterangse rekord van 173 drieë (1986-99).
Chris Badenhorst kon met reg bestempel word as ‘n driedrukmasjien. Tog het hy die groen en goud ‘n skamele twee keer oor die kop getrek. Badenhorst se internasionale loopbaan is deur twee faktore gekniehalter.
Die eerste was sportisolasie. Gedurende hierdie blits van ‘n buks se eerste ses seisoene van eersterangse-rugby (1986-91) was Suid-Afrika ontneem van enige amptelike toetsrugby, met die Springbokke wat in die tydperk slegs teen die rebelle Kavalierspan van Nieu-Seeland (1986) en ‘n Wêreld-vyftiental (1989) te staan gekom het.
Tweedens was die kompetisie onder vleuels ongelooflik straf met Suid-Afrika se hertoetrede tot die internasionale arena in die Negentigerjare, met groot name soos James Small, Pieter Hendriks, Chester Williams en Jacques Olivier wat Badenhorst uit die Bokspan gehou het.
Hierdie trotse boorling van Suidwes-Afrika (nou Namibië) koester egter geen verwyte of spyt nie. “Ek het darem ‘n kans gekry, en ek is dankbaar daarvoor, ek is tevrede,” sê Badenhorst. “Daai tyd was ’n mens maar altyd hoopvol elke slag wanneer ‘n Springbokspan aangekondig moes word. Dit was gewoonlik tydens die rugbyonthaal op ‘n Saterdagaand, en dan ek gewoonlik uitgegaan en in die kar gaan sit en luister na die bekendmaking van die span op die radio. “Dis altyd teleurstellend om nie die span te haal nie, maar ek is vir ewig dankbaar om wel die geleentheid te gehad om vir Suid-Afrika te kon speel.”
Badenhorst is voorts ook dankbaar vir die platform wat Vrystaat-rugby hom gebied het, om nie alleen homself te vestig as ‘n Suid-Afrikaanse rugby legende nie, maar om ook ‘n suksesvolle loopbaan weg van rugby te kon vestig.
“In 1997, terwyl ek nog rugby gespeel het, het ek en André Venter (Springbok-flank, 1996-2001) ‘n kopieëronderneming in Bloemfontein op die been gebring,” vertel hy. ‘n Kwarteeu later, gaan ITEC Vrystaat nog van krag tot krag en spesialiseer in kantoortoerusting en rekenaar harde- en sagteware.
Chris en Michele Badenhorst het mekaar as tieners in Windhoek ontmoet, en hy verkondig trots dat hy reeds 30 jaar getroud is met sy “skoolkys”, en ‘n kroos van twee het.
Dian is bekwame skrumskakel in eie reg, wat ook vir die Cheetahs uitgedraf het en tans betrokke is by die Pumas. Anke is ‘n finalejaar fisioterapie-student aan die Universiteit van die Vrystaat, en het Suid-Afrika o.21 verlede jaar op die hokkieveld verteenwoordig.
Hoewel hy na 35 jaar ‘n Vrystater in murg en been is, het Chris Badenhorst nie sy Namibiese wortels heeltemal uitgetrek nie en is hy, saam met sy ouers, betrokke in ‘n veeboerdery by ‘n Dordabis, ‘n landelike nedersetting in die Khomas-streek sowat halfpad tussen Windhoek en Gobabis. “Ons boer hoofsaaklik met bees en skaap,” vertel hy, “en het ook ‘n lekker jagbedryf aan die gang, wat ongelukkig effens tot stilstand gekom het weens Covid-19.”
As jong kannetjie in Suidwes, het Badenhorst reeds Vrystaat-helde gehad. “Ek het briewe geskryf vir ouens soos Martiens le Roux, Gysie Pienaar en De Wet Ras om vir my hul handtekeninge te pos,” onthou hy, “en ek het tot vandag nog die albums met daardie handtekeninge in.
“Een van my onnies op Windhoek, wat op Kovsies gestudeer het, het vir oom Tat Botha geskakel en gereël dat ek na skool ook Bloemfontein toe kon koers kies. Ek het nooit weer teruggegkyk nie.”
Badenhorst was ‘n trots inwoner van die beroemde en, soms, berugte Reitz-kamerwonings. “Wat ‘n wonderlike tyd. “Sulke eenheid en samehorigheid kry ‘n mens op min plekke, en ek koester die onvergeetlike dae wat ek in Reitz gehad het. Dit was voorwaar ‘n karaktervolle koshuis met hope tradisie. “Op ‘n stadium het Reitz se sport blykbaar meer Springbokke opgelewer as wat ander koshuise provinsiale verteenwoordigers gelewer het...”
Badenhorst se kamermaat was juis die legendariese Bok-heelagter André Joubert. “Wat ‘n smart ou,” merk Badenhorst op. “Juba was van die veld af ook ‘n Rolls Royce, as mens. Hy was ‘n genuine, likeable vriend. “Ek en Juba het saam ons Vrystaat-debuut gemaak teen Vaaldriehoek op Sasolburg. Wat ‘n oomblik vir ons, as youngsters, om uiteindelik saam met my helde, soos Gysie en De Wet, asook Vleis Visagie, Japie Wessels, Eben Jansen en Casper Wessels te kon uitdraf.
“Ouens soos Martiens en, later, Helgard Müller, het vir my Vrystaat-rugby versinnebeeld. Hulle was absolute karakters, en passievol oor Vrystaat, wat die gees aan die gang gehou het. “En, as daar moeilikheid was, kon ‘n mens met sekerheid weet Martiens en Helgard was betrokke.”
Na 13 jaar en oor die 200 wedstryde in die beroemde wittrui van die Vrystaat, moet daar sekerlik ‘n paar hoogtepunte vir Badenhorst uittstaan. “Die uitdrukking is al holrug gery, maar elke wedstryd vir Vrystaat was spesiaal,” meen hy. “As ek ‘n seisoen moet uitsonder, was die klas van 1997 waarskynlik een van die beter spanne met wie ek te doen gehad het. “Ons het in die Curriebeker-reeks vir die Blou Bulle houe gegee (57-27), vir die Haaie pak gegee (40-22) in die semi-finaal in Durban en naelskraap die eindstryd teen WP verloor (12-14).”
Vrystaat het in 1994 ook die Curriebeker-finaal gehaal, waar hulle met 33-56 die knie moes buig teen Transvaal, en Badenhorst het ‘n besonder indrukwekkende seisoen beleef daardie jaar. Hy het 11 drieë in 12 wedstryde aangeteken, en dit het, twee weke na die finaal, gelei tot sy insluiting in die Springbokspan wat Argentinië met 46-26 verslaan het op Ellispark in Johannesburg.
Om die kroon te span, het Chris Badenhorst sy Bok-debuut met ‘n skitterende tweekuns gevier. “Dit was ongelooflik. “Ek was bevoorreg om in ‘n uitstekende span te kon speel, en alles het eenvoudig reg verloop. “My pa en ‘n vriend van hom het van Namibië deurgery vir die geleentheid, en die vriend het so opgewonde geraak toe ek ‘n drie druk dat hy byna van die pawiljoen afgeval het!”