Indien die bonkige Cor Dirksen, Springbok-vleuel van Noord-Transvaal, so ’n moeilike man is om op die veld te keer soos dit is om hom oor homself aan die praat te kry, loop hy die hele wêreld nog plat!
Ek moes die gegewens vir hierdie skets van die donkerkopkêrel feitlik soos tammeletjie uit ’n kleuter se hare rem. Teruggetrokke is nie die regte woord nie; en as u hier lees watter puik prestasies hy reeds as sportman agter die blad het, sal u sy beskeie geaardheid des te meer waardeer.
Ek het die sterkgeboude, kort Cor Dirksen verlede jaar die eerste keer in aksie gesien toe hy in sy eerste toets in die Baai uitgedraf het. Dit was die laaste toets teen die Wallabies. In dié wedstryd het hy Wallaby-vleuel Johnny Williams behoorlik stukkend gespeel. Hy verdedig soos ’n baksteen en loop so sterk asof drie honger leeus aan sy hakskeene ruik.
Wat veral van hom so ’n gevreesde teenstander maak, is sy vasbeslote kraglopies en die feit dat hy sy teenstanders dikwels harder laat val as wat hy self met die aarde kennis maak.
Soos een spanmaat aan my verduidelik het: „Cor is die soort man wat die verdediger gaan haal, pleks dat die verdediger na hom kom!”
Veral sy blitsige afstamp het menige teenstander al laat tol.
Die sterk afdruk het hy stellig te danke aan sy jare as gewigopteller en die ruk wat hy met weislae aan amateurboks deelgeneem het.
Vir die meeste mense wat eers van Cornelius Wilhelmus Dirksen gehoor het toe hy vir Noord-Transvaal en die Springbokke uitgedraf het, sal dit stellig ’n verrassing wees om te verneem dat hy reeds in elke posisie in die agterlyn, behalwe skrumskakel, gespeel het; as senter vir Transvaal se skolespan uitgedraf het, en na slegs sy vyfde interprovinsiale wedstryd Springbok geword het.
Cor is op 22 Januarie 1940 op Vereeniging gebore. Hy is een van die elf kinders van mev. Reinie en wyle mnr. Koos Dirksen - daar is nog vyf broers en vyf susters.
Hy het op Vereeniging skoolgegaan, eers in die Laerskool Roodstuine en later in die Laerskool Unitaspark voordat hy na die Afrikaanse-medium Hoërskool op Vereeniging is.
Hy het as negejarige met rugby kennis gemaak en senter gespeel, maar is gou losskakel toe. In sy o.11-dae het die fris knapie stellig ’n rekord opgestel toe hy in ’n wedstryd elf drieë van die losskakelposisie af gedruk het! In die hoër skool het hy ook losskakel gespeel, maar in matriek as senter uitgedraf. (Toe hy o.15 was, het hy ook drie wedstryde as heelagter in die skool se eerste span gespeel.)
Die bonkige seun het teen hierdie tyd as ’n knap senter ontpop en in 1956 het hy in die Skolespan van Transvaal plek gekry wat teen die toerspan van Wallis se skole gespeel het. (Clive Rowlands, onlangs hier as kaptein van Wallis, was ook in die Walliese skolespan.)
Ná skool het Cor eers ’n ruk gaan werk en vir Vereeniging se dorpspan gespeel. Hy vertel dat dit seker sy trotste oomblik as sportman was toe hy as negentienjarige vir die eerste span gespeel het en sy vader hom daardie dag die eerste keer sien rugby speel het.
Hy het rugby egter ’n ruk laat staan en eers drie jaar later, toe hy na Pretoria is om ’n kursus in aptekerswese aan die Universiteit Pretoria te volg, het hy by Oostelikes aangesluit.
In 1961 het hy as senter in die sesde span begin, maar ’n gedeelte van die seisoen nie gespeel nie. In 1962 het hy weer as senter weggetrek, maar sy breier, mnr. Jan van Zyl, het aan Cor gesê dat hy vleuel toe moes skuif, want syns insiens sou Cor dit daar ver bring.
„Ek het dit gedoen,” vertel Cor vandag, „en ek het dit aan mnr. Van Zyl te danke dat ek op my regte posisie uitgekom het.”
Van toe af was sy vordering verbasend. Hy is derde span, tweede span en eerste span toe - drieë het volop uit sy kraglopies gevloei.
In 1963 het hy sy eerste kans in die ligblou trui van Noord-Transvaal gekry. Ná slegs vier wedstryde in sy provinsie se span, het hy vir die Junior Springbokke gespeel; na net vyf wedstryde was hy in die Springbokspan!
In sy agt provinsiale wedstryde voor sy onlangse besering, het hy vyf drieë gedruk. Hy was die afgelope seisoen ná die toets teen Wallis, ’n rukkie van die veld met ’n beseerde knie, maar hy is nou weer met mening aan die gang. Gedurende sy afwesigheid het ’n paar ander puik Noord-Transvaalse vleuels op Cor se plek aanspraak gemaak, maar mense in Pretoria wat Dirksen goed ken, vertel my dat daar niks is wat hom beter laat speel as so ’n uitdaging nie.
Lede van die klub Oostelikes vertel ook dat hulle Cor graag vóór ’n wedstryd met ’n vleuel-teenstander bang probeer praat. „Dan moet jy sien hoe verniel hy die teenstander!” sê hulle.
Cor is besonder sterk. Hy staan maar 5 vt. 9 dm. in sy sokkies, maar het ’n goeie 180 pond spiere aan sy stewige raamwerk.
As gewigopteller vir U.P. het hy reeds twee jaar ná mekaar die Intervarsity teen Wits in die ligswaargewig-afdeling gewen, en hy kan ook spog met ’n oorwinning oor die S.A. universiteitskampioen.
As jong seun (hy het toe omtrent 90 pond geweeg) het hy in junior boks uitgeblink en een keer die Oos-Transvaalse junior kampioen in sy gewig geklop.
Daar word dikwels aangevoer dat Dirksen te stadig vir die vleuelposisie is. ’n Mens kry miskien hierdie indruk omdat hy kraglopies bo kronkellopies verkies. Maar dit sal u stellig verbaas om te hoor dat Cor die Victor Ludorum in die laer skool was en dat hy reeds die 100 tree in 10.3 sekondes geloop het!
Cor het al ’n menigte puik drieë ingeryg, maar ek hoor dat hy waarskynlik sy mooiste drie in ’n klubwedstryd in Pretoria tussen Oostelikes en Weermag gedruk het. Hy het sy teenstander, Kerneels Cronje, die puik vleuel en atleet, en ook vir Mannetjies Roux en die Weermag-heelagter op die drie in 10-tree-lyn afgestamp en gesystap en ’n drie langs die hoekvlag gaan druk.
Cor noem Jannie Engelbrecht die gevaarlikste vleuel teen wie hy nog gespeel het. „Jy weet nooit watter rigting hy gaan kies as hy so mik-mik nie.”
Johan Fechter, sê hy, is die sterkste hardloper teen wie hy al gaan plek inneem het, en Perry Enslin is volgens hom die grootste opportunis.
Hy het die regte benadering teenoor sy teenstanders. „Ek verbeel my dat ek maar nog die derdespan-vleueltjie is van ’n paar jaar gelede en onderskat geen teenstander teen wie ek speel nie,” sê hy.
Miskien is Cor traag om te gesels, maar hy was blykbaar nie traag om vlerk te sleep nie. Hy het sy vrou, Dalene, een aand met ’n „blind date” ontmoet; vier maande later het hulle „ja” voor die preekstoel gesê. Dit was netjiese „vleuel-sleep” daardie!
Cor, wat nog met sy aptekerskursus besig is, praat andermaal as ’n mens na ’n kroos verneem. „Ek wil nie hê my kinders moet nog saam met hul pa op die skoolbanke sit nie,” skerts hy. Dan is daar ook sy groot doelwit, die Nieu-Seelandse toer aanstaande jaar, waarop hy dolgraag sal wil saamgaan, wat hom so laat gesels.
In elk geval, die span goeie vleuels wat van nou af tot aanstaande jaar vir Cor uit die Noord-Transvaalse en Springbokspanne wil hou, kan hulle maar klaarmaak vir bitter medisyne van hierdie aspirant-apteker.