Hy sal onthou word vir sy omstrede skepskop vir die Springbokke teen die NS Maori’s in 1981.
Colin Beck was egter ook een van die talentvolste, en veelsydigste, agterspelers van sy tyd. Inteendeel, as dit nie vir ‘n ernstige kniebesering was nie, sou hy waarskynlik selfs hoër hoogtes bereik het.
Na die veelbesproke betogertoer na Nieu-Seeland in 1981, het die Kiwi-skrywer Don Cameron, in sy boek Barbed Wired Boks, geskryf dat Colin oor iets van die manjifieke Puma Hugo Porta se toorkuns beskik: “Beck verseg om hom deur losvoorspelers te laat intimideer. Om die waarheid te sê, hy beskou hulle as ‘n uitdaging, soos in Rotorua (teen Bay of Plenty), waar hy gereeld die opposisie ore aangesit het met sy vaart en venynige voetwerk...”
Dit was 40 jaar gelede, en Colin Beck bedryf meer as 15 jaar sy eie batefinansierings-instansie, Prexision Asset Finance.
“My loopbaan het gewissel tussen die bankwese en entrepeneurskap,” vertel hy. “Ek was ‘n finansiële bestuurder by Saambou, maar toe hulle in 2006 gevou het moes ek noodgedwonge my eie besigheid begin.”
Colin en Lynette, met wie hy bykans 40 jaar getroud is, woon in Tygervallei, en het drie kinders. “Colin jr is ‘n narkotiseur in Oos-Londen; Melissa is ‘n geoktrooieerde rekenmeester by ‘n firma in die uitvoermark; en Janneke is ‘n tandarts, en besig met haar hospitaaljaar in Barkly-Wes. “Dan het ek ook reeds twee kleinkinders, Liam en Amélie.”
Jacobus Johannes ‘Colin’ Beck is gebore en getoë in die Strand, waar hy by Laerskool Lochnerhof sy eerste talentvolle treë op die rugbyveld gegee het. “Alles het eintlik in ons agterplaas begin, waar ek en my drie broers onophoudelik ‘Curriebeker- en toetsrugby’ gespeel het,” onthou hy. “Dit was intens, soveel so dat Johan op ‘n slag vir ons jongste boetie, André, geduik het dat hy sy bewussyn verloor het. Nadat André bygekom het, het Ma ons al vier ‘n pakslae met die ou ‘strap’ gegee. (André Beck het vir Pukke en Wes-Transvaal uitgedraf in die vroeë Tagtigerjare.)
“Pa was ‘n stoere ondersteuner van Maties en WP, en het ons gereeld saamgeneem Nuweland toe. Ek was ook bevoorreg om ‘n skoolhoof soos mnr Hansie Schoeman te gehad het; hy het die tweede toets tussen Suid-Afrika en die Britse Leeus in 1968 geblaas en het ‘n groot liefde vir die spel by ons gekweek.”
‘n Bekkenbeen-besering het verhoed dat Colin Cravenweek kon speel, maar hy het wel provinsiale tennis vir Boland gespeel. “Tennis was my ander liefde,” erken hy. “Op Stellenbosch was daar egter nie ‘n manier hoe ek altwee sporte kon beoefen en tussendeur nog swot óók nie.”
Hoewel hy nie Cravenweek gespeel het nie, het Colin homself spoedig in die Maties se o.19-span ingespeel, waar hy deur Dawie Swart afgerig is. “Dawie het ‘n reuse invloed gehad; hy’t my die selfvertroue gegee om hierdie game te kon speel.” As ‘n senior, het Colin ook met die legendariese Dr Danie Craven te doen gekry, maar hulle verhouding het op ‘n wankelrige voet afgeskop. “Tydens ‘n SA Universiteite-week in Bloemfontein, het ek en Fritz Wolmarans (pa van die tennis-ster, Fritz Wolmarans) van Shimlas in ‘n onderonsie betrokke geraak, en was ek van die veld gejaag,” onthou Colin. “Ek was geskors vir die die toernooi, en terug in Stellenbosch moes ek vir Dok gaan sien. Hy het my behoorlik geroskam, maar soos altyd effens tong in die kies.”
Die jong Matie, wat ‘Klaasvakie’ gedoop is deur Jan ‘Boland’ Coetzee omdat hy altyd half aan die slaap voorgekom het op die veld, maak in 1980 sy buiging vir WP teen Noordwes-Kaap in Upington. “Dis die plek waar ek die hardste in my lewe getackle is; hulle senter ‘Kookwater’ Louw het my geloop dat ek behoorlik gehop het op daai sementblad van ‘n veld.”
In 1981 word Colin gekies vir die Springboktoer na Nieu-Seeland, en hy vier sy toetsdebuut, as ‘n reserwe, in Suid-Afrika se onvergeetlike oorwinning van 24-12 oor die All Blacks in Wellington om die reeks gelykop te laat trek. “Dit voel soos gister dat ek in die tonnel op Athletic Park gewag het vir my kans om op te draf,” sê hy.
Colin vervang ook vir Willie du Plessis in die dramatiese en beslissende derde toets in Auckland, wat die Bokke op hoogs kontroversiële wyse met 22-25 verloor, en hy druk in die historiese sege van 38-7 oor Amerika op daardie toer.
Colin sal egter altyd onthou word vir sy opspraakwekkende skepskop in die doodsnikke van die toerwedstryd teen die Maori’s, wat ‘n gelykopuitslag van 12-12 vir Bokke bewerk het. “Ek weet nou nog nie of daai skop oor was of nie,” erken hy. “Die kamerawerk daardie jare was nie so gesofistikeerd nie en die pale was redelik kort, so dis moeilik om te sê...”
In 1982, toe WP die eerste van vyf agtereenvolgende Curriebeker-titels ingepalm het, was Colin die top puntemaker in die kompetisie met ‘n totaal van 149 punte. “Dit was dit die eerste keer dat ek werklik met selfvertroue op heelagter gespeel en die posisie begin geniet het,” vertel hy. “Ek het gevoel dat ek daar agter in beheer was van die veld, dat ek oral kon saamspeel en dit het die vryheid in my spel laat deurkom.”
Die daaropvolgende seisoen het Colin ‘n ernstige kniebesering opgedoen, wat uiteindelik sy loopbaan voortydig sou beëindig. “Dit was teen Suidoos-Transvaal in Witbank, en weer op ‘n ‘sementblad’,” onthou hy. “Kallie Grobler het my reg van voor geduik en ek het ‘n posterior-kruisligament geskeur. Ek was nooit weer dieselfde nie.
“Toe ek in 1985 weer probeer speel het, het ek gou agtergekom dat ek nie meer kon versnel soos normaalweg nie; ek kon in ‘n gaping kom, maar ek kon nie deurkom nie.” Op 26-jarige ouderdom was Colin nog in die fleur van sy loopbaan, en ‘n mens kan net wonder watter hoogtes hy moontlik nog sou bereik het.
Oor die afgelope klompie jaar moes hy ook ‘n paar mediese uitdagings die hoof bied. Kort voor sy 50ste verjaarsdag, het Colin ‘n ligte hartaanval gehad. “‘n Vriend het my genooi om na baie jare weer ‘n stel tennis te speel. Op ‘n stadium het ek ‘n geweldige brandpyn in my maag ervaar, so erg dat ek moes ophou speel. “‘n Week later het my regterarm skielik soos ‘n stuk rubber gevoel. Toevallig was my seun by my, en hy het, nadat hy my ‘n Disprin gegee het, my dokter toe geneem. “Ek het ‘n ligte beroerte gehad, as gevolg van die hartaanval op die tennisbaan, en my linker-kroonaar was 99% vernou. A dit nie vir die Disprin was nie, sou die aar heeltemal verstop het en sou ek ‘n massiewe, noodlottige hartaanval gehad het. “Ek het ‘n tweede kans gekry, en dit het my ‘n hele nuwe perspektief gegee.”
In 2020, het Colin, na ‘n gholfdag vir oud-Bokke, ook positief getoets vir die koronavirus Covid-19 - saam met Danie Gerber, Divan Serfontein, Burger Geldenhuys en Robbie Blair. “Ek het goed herstel,” sê hy. “Ek het dit nie in so ‘n erg graad gehad soos mense wat dit in hulle longe kry nie, maar ek was nogtans twee weke plat in die bed met erge kop- en lyfseer. “Dis beslis nie ‘n normale griep nie...