JOHANNESBURG - Nie een van die jong rugbyspelers wie se name vandag in Sport-Rapport as kandidate vir die Springbok-toerspan genoem word, het al waarskynlik van Melt Hanekom gehoor nie. Hulle sal dus ook nie weet dat hy met 'n gebreekte been in sy Springboktrui voortgespeel het nie, want waarvoor is daar dan plaasvervangers! Mnr. Hanekom, 'n afgetrede boer van Moorreesburg in die Swartland, is dié week in die ouderdom van 66 in sy huis in die Strand aan 'n hartaanval oorlede. Hoewel hy feitlik 'n onbekende vir vandag se rugbyspelers is, sal die mense van sy kontrei wat hom môre op Riebeeck-Wes gaan begrawe, weet dat hy 'n buitengewone speler en mens was.
Mnr. Hanekom het in 1956 op verrassende wyse Springbok geword toe hy ingesluit is in die toerspan van Basie Viviers na Australië en Nieu-Seeland. Hy het toe nog nie eens gereeld vir sy provinsie, die Boland, gespeel nie aangesien Bertus van der Merwe toe die Wynboere en Suid-Afrika se nommer een-haker was.
Melt, lid van die Gedugte Tiere van Moorreesburg, is darem na die Springbok-proewe genooi, "seker maar om die spanne vol te maak", is destyds gesê. Melt het in die sesde (en laaste) span weggespring. Die spelers het dit die matineéspan genoem. Die sterk jong boer het egter so goed gevaar dat hy op die finale proewedag in die B-span teen Van der Merwe gesak het. Toe die toerspan aangekondig word, was albei Bolandse hakers Springbokke.
In sy tweede wedstryd op die toer in Brisbane teen Queensland het Melt sy regterbeen erg beseer, maar hy het opgestaan. In daardie dae was daar nog nie plaasvervangers nie, en as hy van die veld sou gaan, sou die Springbokke met veertien spelers moes klaarkom. "Ek kan nie eintlik sê ek het voortgespeel nie. Ek het maar so op die seer been getrippel en met die ander voet gehaak wanneer ons moes skrum. Ek het darem op die veld gebly totdat die eindfluitjie geblaas het," het hy latere jare aan my op sy mooi plaas Arbeidsgenot vertel. Eers ná die wedstryd het dokters vasgestel die dunste van sy twee bene in sy regterbeen is af "soos botter wat met 'n warm mes gesny is".
Die gebreekte been het hom net drie weke van die veld gehou. In Timaru in Nieu-Seeland was Melt terug met 'n verband om die been en 'n smeersel salf wat die been "dood gemaak" het. Hy het vertel dat hoewel hulle nie so gereeld geoefen het nie, was die boere baie fiks. "Voordat boerdery so gemeganiseerd geraak het, moes ons swaar sakke koring dra en oral rondhardloop." Melt kon weens sy besering net nege keer vir die Springbokke speel, maar hy het later vertel dat hy op daardie toer meer as in 'n leeftyd geleer het. "'n Mens het daarna met ander oë na die wêreldjie rondom jou gekyk," het die man gesê wat jare gelede al en nog lank voor dit mode geword het op sy spog-koringplaas vir sy plaaswerkers 'n skool gebou en 'n rugbyveld aangelê het.
Op Moorreesburg het Melt en sy twee broers, Hendrik en Koos, die eerste keer in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse rugby as broers saam in 'n senior span se voorry gespeel. Die Hanekoms het vir die Tiere saam met ander bul-voorspelers soos Chris en Willem Koch en Butch Lochner gespeel.
Mnr. Hanekom word oorleef deur sy vrou, Ina, drie seuns, 'n dogter en vyf kleinkinders.
- GIELIE DE KOCK