Div Visser
Full names: Johann de Villiers
Date of birth: 26 Nov 1958
Place of birth: Cape Town
School: Voortrekker, Wynberg
Springbok no: 517
Springbok debut province: Western Province
Physical: 1.94m, 110.0kg
Current age: 65
Test summary: Tests: 2 Tries: 0
First Test: 29 Aug 1981 Age 22 - Lock against New Zealand at Athletic Park, Wellington
Last Test: 25 Sep 1981 Age 22 - Lock against USA at Owl Creek Polo ground, Glenville, NY
Test history:
DateAgePositionOpponentVenueResultScoreProvince
29 Aug 1981 22Lock New Zealand Athletic Park, Wellington Win: 24-12  WP
25 Sep 1981 22Lock USA Owl Creek Polo ground, Glenville, NY Win: 38-7  WP

Vir ’n slot was De Villiers Visser effe aan die kort kant. Om dan ook nog op 20-jarige ouderdom die hardebaard-wêreld van Curriebeker-rugby te betree, sit nie in elke speler se broek nie.

Oor hoe hy as melkbaard tussen die hardebaarde van destyds moes oorleef, onthou Visser goed hoe hy deur die WP se spandokter, dr. Augie Cohen, voor sy debuut ontbied is.

Ek het ’n ligte borsbesering gehad en toe ek by Dok Cohen kom, sê hy: ‘I have to give you a shot; apparently you need to play for Province against Northern Transvaal this Saturday . . .

“Ek het ’n ligte borsbesering gehad en toe ek by Dok Cohen kom, sê hy: ‘I have to give you a shot; apparently you need to play for Province against Northern Transvaal this Saturday . . .’

“Ek was heeltemal stomgeslaan. Skielik moes ek met geharde Springbokke soos Moaner van Heerden en Louis Moolman meeding, en, met die afskop, wie’s eerste onder die hangende bal? Kiepie, natuurlik.

“Ek het opgegaan, die bal gevang, rug gegooi en die manne het goed gebind. Moaner-hulle het die wig wat ons gevorm het met mening getref, maar ek kon die bal uitkry na Divan (Serfontein) toe, wat laat loop het na Robbie Blair om te skop.

“Op pad lynstaan toe het Morné (du Plessis) my op my agterent geklap en gesê: ‘Well done, Div! Now you’re in the game.’ ”

Visser het meer as 100 wedstryde vir die Westelike Provinsie gespeel, maar sy Springbok-loopbaan is weens sportisolasie en ’n ernstige kniebesering tot slegs twee toetse beperk.

Tog het De Villiers Visser in sy enkele toets teen die All Blacks in 1981 nie net ’n reuserol gespeel in ’n merkwaardige Bok-sege nie, hy het die Kiwi’s ook gaande gehad met sy kragspel, aldus Don Cameron in sy boek Barbed Wire Boks:

“Hy was die tipe slot wat Nieu-Seelanders verstaan, waardeer en wens dat ons self meer gereeld kan oplewer. Hy het genoeg lengte vir die lynstaan, oorgenoeg krag vir die skrums en losskrums, ’n bruikbare hoeveelheid spoed om by die afbreekpunte te kom. En waar die aksie was, daar was Visser.”

Visser (61) woon en werk deesdae in Franschhoek, waar hy reeds 27 jaar gelede sy onderneming met besproeiing begin het.

“My oudste seun, Uys Visser (34), besit sy eie opnameateljee, maar toe dit stillerig geraak en daar ’n opening by my gekom het, het ek hom verlede jaar by die onderneming ingetrek.”

Visser en sy vrou, Luithar, vier later vanjaar hul 40ste huweliksherdenking. Benewens Uys het hulle nog twee kinders, Cilliers (31) en Luhanie (29).

Div het twee kleinseuns van twee jaar oud, Luca en Juan.

’n Groot hartseer vir die Vissers is dat hul eersgeborene, Villiers, 30 jaar gelede op 10 maande breinskade opgedoen het nadat hy in ’n swembad geval het en agt maande later aan ’n longvirus dood is.

Visser is ’n gebore en getoë Kapenaar, en dit was by die Laerskool Simon van der Stel waar die rugbygogga gebyt het.

“Ons st. 3-onderwyser het ons met ’n rottang aangemoedig om in die losskrums in te neuk,” onthou hy. En, vertel Visser, as jongeling was hulle as gesin in dieselfde gemeente as Andrew Janson, voormalige WP-flank wat in 1965 saam met die Springbokke na Nieu-Seeland getoer het.

Ons het in die kerkbank reg agter Andrew gesit, en ek het, pleks om na die preek te luister, my altyd verwonder aan sy stewige nek waarmee hy verdedigers met minagting kon afskud.

“Ons het in die kerkbank reg agter Andrew gesit, en ek het, pleks om na die preek te luister, my altyd verwonder aan sy stewige nek waarmee hy verdedigers met minagting kon afskud.”

Aan die Hoërskool Voortrekker in Wynberg het Visser die eerste span van st. 8 (gr. 10) af verteenwoordig, aanvanklik as vaskopstut, en sowel WP- as SA Skole-kleure verwerf.

Ná matriek het hy by die staande mag aangesluit waar hy as ’n vliegtuigmonteerder vir Alouette-helikopters opgelei is.

“Ek het van kleins af oorlogboekies gelees oor Spitfire-, Stuka- en Messerschmitt-vliegtuie, en wou bitter graag ’n Mirage-vlieënier word,” vertel hy.

Ek kon nie tegelykertyd rugby speel en ’n vlieënier wees nie, dus het ek eers jare later, nadat ek genoeg geld kon bymekaarskraap, ’n mikroligte vliegtuig aangeskaf en begin aandag gee aan my vliegloopbaan.

“Ek kon nie tegelykertyd rugby speel en ’n vlieënier wees nie, dus het ek eers jare later, nadat ek genoeg geld kon bymekaarskraap, ’n mikroligte vliegtuig aangeskaf en begin aandag gee aan my vliegloopbaan.”

Visser het oor vier jaar vir homself ’n Titan Tornado in sy motorhuis gebou, vir twee jaar agtereenvolgens (2009-’10) die Grand Champion-prys by die EAA Fly-In losgevlieg en vier jaar gelede sy private vlieënierslisensie (PPL) verwerf.

Boonop wend hy sy vliegkuns aan om met behulp van gevorderde kameratoerusting en sagteware, lugopmetings te doen vir die besproeiingstelsels wat hy vir klante ontwerp en aanlê.

As ’n jong slot het Visser weliswaar ook “hoog gevlieg” in die lynstane, al was sy 1,94 m nie juis lank vir ’n slot nie.

“Ek het in 1978 onder die wakende oog van die legendariese atletiekafrigter John Short in Pretoria geoefen om te herstel van ’n kniebesering, en daardie gespesialiseerde oefeninge het my veerkrag so verbeter dat ek slotte wat langer as ek was, kon klop,” sê Div.

Sy uitmuntende lynstaanspel, tesame met sy kragspel in die vaste los, het gelei tot sy WP-debuut in 1979 – op 20-jarige ouderdom teen Noord-Transvaal.

Dieselfde seisoen nog het Visser saam met die SA Barbarians na Brittanje getoer. Hy vertel dat die Baabaas in een toerwedstryd aanhoudend vir optel in die lynstane gepenaliseer is.

“Ek het Martiens (le Roux), wat agter my gestaan het, gevra om ’n entjie verder weg te staan, sodat die skeidsregter kon sien hy tel my nie op nie.”

In 1980 is Visser gekies vir die Springbok-toer na Suid-Amerika, waar hy vir die eerste keer die Groen-en-goud oor die kop kon trek. “Om daai trui aan te trek . . . Jy ruik hom behoorlik op.”

’n Jaar later, op die “Betogertoer” na Nieu-Seeland, is hy gekies vir die tweede toets teen die All Blacks in Wellington, ’n kragmeting wat Suid-Afrika oortuigend met 24-12 gewen het.

Ons moes in die kleedkamer onder die hoofpaviljoen slaap, en dit het ons, ironies genoeg, goed gedoen, want ons kon 100% op die wedstryd fokus.

“Ons moes in die kleedkamer onder die hoofpaviljoen slaap, en dit het ons, ironies genoeg, goed gedoen, want ons kon 100% op die wedstryd fokus.

“Vroeg in die wedstryd was daar ’n lynstaan, maar Willie Kahts (haker) se skouer was seer, hy kon nie ordentlik ingooi nie en die bal het letterlik van my elmboog af in Divan se hande in gespat. Hy het laat loop en Gerrie (Germishuys) het sy beroemde drie gedruk.

“Daai wedstryd was soos ’n sneltrein, toe ek my oë knip was alles verby.”

’n Enkelbesering het hom uit die beslissende derde toets in Auckland gehou. Ná die euforie van Wellington was die teleurstelling vir hom massief.

Vir ’n vaarwel het hy in die historiese toets teen die VSA, op ’n poloveld in Glenville, New York, voor minder as 100 toeskouers, gespeel.

1982 was ’n troos toe hy as lid van die WP-span die eerste van vyf agtereenvolgende Curriebeker-titels inpalm. Aan die begin van 1983 het hy knieligamente geskeur by die eerste WP-oefening van die jaar. Dit het hom twee jaar buite aksie gehou.

Visser het die Streeptruie 106 keer verteenwoordig (1979-90), wat vyf Curriebeker-eindstryde insluit, en dis iets waarop hy uiters trots is.