In ’n era waar Suid-Afrikaanse rugby geseën was met twee generasiespelers op haker, Malcolm Marx en Bongi Mbonambi, was daar min ruimte vir iemand anders om werklik ’n stempel af te druk. Ongelukkig het dit beteken dat een van die mees onderskatte hakers van sy tyd, Akker van der Merwe, nooit die Springbok-loopbaan gekry het wat sy talent verdien het nie.
Op 34 is ’n terugkeer na die Bokspan onwaarskynlik. Maar soos Marcel Coetzee, is Akker een van daardie spelers wat met reg kan voel dat hy nooit deel van Rassie Erasmus se planne ná 2018 geword het nie. Ja, hy het drie toetse vir die Bokke gespeel, maar die impak wat hy kón hê, was veel groter. Hy was die tipe speler wat, in ’n ander era, maklik ’n gereelde Bok sou wees.
Waarom hy oor die hoof gesien is, sal waarskynlik altyd ’n raaisel bly. Wat wel seker is, is dat Akker van der Merwe nooit ’n span in die steek laat nie. Sy bynaam, “The Warthhog”, pas hom perfek, kort, stewig, ongelooflik sterk, en met die spoed en aggressie van ’n flank of agsteman. Hy speel met ’n soort onverskrokke energie wat jy nie kan afrig nie , dit is ingebore.
Saam met Malcolm Marx was hy een van die Lions se uitblinkers in die Super Rugby-era toe die span twee jaar agtereenvolgens die eindstryd gehaal het. Sy kraglopies, sy werktempo, sy vermoë om verdedigers te sleep en sy instink vir die doellyn het hom ’n kultusheld gemaak. Maar soos soveel ander, het sy besluit om sy loopbaan oorsee voort te sit waarskynlik die finale spyker in die kis van sy Bok-drome geslaan.
Wat wel onbetwisbaar is dat die Vodacom Bulls vandag ’n beter span is omdat Akker van der Merwe daar is. Hy bring ’n kombinasie van ervaring, aggressie, spoed en pure wilskrag wat jy nie sommer vervang nie. Hy bly ’n uitblinker, selfs in die nadraai van sy loopbaan.
Vir my, en vir baie ander wat hou van spelers wat met hart en vuur speel , sal Akker van der Merwe altyd een van die mees onderskatte hakers wees wat Suid-Afrikaanse rugby nog opgelewer het.