‘Groot’ Flippie van der Merwe, soos wat hierdie reus van ‘n Springbokstut bekendgestaan het, is ‘n kleurryke karakter van die Kalahari. Die Kalahari is waar hy gebore en getoë is, en waar hy deesdae, na omswerwinge in die Kaap, Klein Karoo, Vrystaat en Wes-Transvaal, weer bly, en boer.
Flippie boer met Simbra beeste op die plaas Cobham, halfpad tussen Dibeng en Hotazel, wat vernoem is na ‘n nedersetting in Surrey, Engeland. “Die landmeter was van Engeland, en daarom is meeste plase vernoem na Engelse dorpe,” vertel hy. “Die grond is al vir drie geslagte, vanaf 1897, in ons besit.”
Flippie en Karin van der Merwe het mekaar op Stellenbosch ontmoet, en is in 1982, op aandrang van wyle dr Danie Craven, getroud. “Dok het altyd gesê dat ek en Karin - sy is ook lank - moes trou, want, het hy geredeneer, Suid-Afrika het slotte nodig...” onthou Flippie (1.96m).
Slotte, en uitstekende slotte daarby, het Flippie en Karin inderdaad voortgebring. Francois van der Merwe het slot gespeel vir WP, Racing 92 (meer as 200 wedstryde) en Lyon, terwyl Flip jr in 36 toetse vir Suid-Afrika op slot gesak het, en ook die Cheetahs, Bulle en Clermont verteenwoordig het.
Daar is darem ook ‘n roos tussen die twee dorings, en Flippie se dogter, Karlien, is ‘n onderwyseres in Kathu. “Ek is geweldig trots op my kinders,” spog Flippie. “Elkeen het op verskeie vlakke presteer.”
Sowel Francois as Flip is tans besig om hulle MBA te voltooi; Francois voltyds aan die Londense Besigheidskool en Flip deeltyds deur die Universiteit van Cambridge. Francois en vroulief Claire het ‘n tweeling, Hugo en Theo, so die ‘slotfabriek’ het nie noodwendig produksie gestaak nie...
Phillip Rudolph van der Merwe is op 8 Julie 1957 op Dibeng gebore. “Ek het op Dibeng en Hotazel skoolgegaan, maar my pa is oorlede toe ek in st 4 was, en dus moes ek my laerskoolloopbaan aan Newton in Kimberley voortsit.”
Dit was op Hotazel dat die rugbygogga begin byt het. “Die dorpspan se rugbyoefeninge was al vermaak op die dorp,” onthou Flippie. “Ons het maar agter die pale rondgehang en balle teruggeskop. Op hoërskool, aan Diamantveld, het ‘n mens redelike goeie afrigting begin ontvang, en het die belangstelling ontwikkel tot ‘n liefde.”
Flippie het Griekwas by twee agtereenvolgende Cravenweek-toernooie (1974-75) verteenwoordig, voordat hy in 1976 op Stellenbosch met die legende, na wie die toernooi vernoem is, kennis gemaak het. “Dok was nie net ‘n kundige op die gebied van rugby nie, maar ook ‘n kenner van mense,” vertel hy. “Ons was altyd skrikkerig om na vakansies terug te keer universiteit toe, want dan het Dok oorgenoeg tyd gehad om nuwe, uitmergelende oefeninge, soos koppestamp, te kon uitdink.
“Ek en Jan ‘Boland’ Coetzee het altyd saam van Stellenbosch af Nuweland toe gery vir WP-oefeninge, en ek sal nooit daai reuk van mout - SA Brouerye was langs die stadion - vergeet nie; ek hou van bier, maar daai reuk is nie juis aangenaam as ‘n mens hard oefen nie.
“Ek was bevoorreg by WP om saam met groot name te speel, spelers wat ek vir jare slegs van ‘n afstand kon bewonder. “Daar was natuurlik ‘n paar groot karakters. Ouens soos Clifford Etzebeth en Robert Scott was nie manne om ligtelik op te geneem het nie, en kon nagklubs gou-gou skoonmaak...”
Flippie het nie alleen vir Maties en WP met onderskeiding verteenwoordig van 1976 tot 1980 nie, hy voltooi ook sy BA, HOD, Honneurs en Meestersgraad in Geskiedenis.
In 1981, moes hy inklaar vir militêre opleiding aan die Infanterieskool in Oudtshoorn. Flippie was in Bravo Kompanie, saam met ‘n paar ander provinsiale spelers, soos wyle Herman van Heerden (Vrystaat- en Natal-slot). Die ‘rugbytroepe’ het natuurlik sekere ‘voorregte’ geniet, soos om naweke uit die basis te kon gaan om elders rugby te speel.
“Jy moet egter onthou dat die ou wat heeltyd in die basis gebly het, gewoond geraak het daaraan, maar vir ons wat kon uitgaan, was elke Sondag, as ons teruggekeer het basis toe, weer soos ‘Basies’ van vooraf,” meen Flippie. Hy was juis halfpad met ‘Vasbyt’, ‘n moordende roetemars van bykans 90km in die voetheuwels van die Swartberg, wat oor drei dae strek, toe hy na Pretoria ontbied is om vir die Gaselle teen Ierland te speel. Daarna is Flippie se militêre opleiding met ‘n volle twee maande onderbreek, toe hy saam met die Springbokke na Nieu-Seeland getoer het.
In ‘n mate was die berugte ‘betogtertoer’ van 1981 soortgelyk aan ‘n oorlogsfront, aangesien die Springbokke letterlik verskans moes word, in muurbalsale en onder pawiljoene, teen die geweldadige aard van die onluste. “Daardie ontberinge het gehelp om ‘n goeie spangees te bou,” meen Flippie. “Die spelers was op mekaar aangewese, en dit het ‘n onwrikbare band gesmee.”
Flippie het sy toetsbuiging vir Suid-Afrika gemaak in die merkwaardige oorwinning van 24-12 oor die All Blacks in Wellington, nadat die Springbokke sleg daarvan afgekom het in die eerste toets. “Van der Merwe se insluiting in die span het byna net so ‘n groot opskudding veroorsaak soos die weglating van Rob Louw,” skryf Kiwi Don Cameron in Barbed Wire Boks. “Van der Merwe het egter ‘n nuttige bydrae gelewer. Hy het met ‘n paar stormlope om die die lynstaan vorendag gekom, maar sy grootste bydrae was om tussen Frank Oliver en Andy Haden in te wig, en sodoende die All Black-lynstaan te ontwrig. Wanneer iemand van 300 pond met uitgestrekte arms homself inwig kan hy ‘n vervlakste oorlas wees.”
“Dit was lekker om te kon gewen het, want daar was geweldige druk, vanuit alle oorde, op ons,” sê Flippie. “In ‘n mens se eerste toets, pomp die adrenalien so dat jy omtrent eers in die laaste vyf minute bykom. Sodra die span egter begin voorloop, dan wil jy net meer en meer gee. “En, Nelie Smith (afrigter) het daarin geslaag om my selfs effens fikser te maak as wat die ‘Army’ kon regkry...”
Na die toer het Flippie teruggekeer Infanterieskool toe om die Offisierskursus te voltooi, en die daaropvolgende jaar is hy na Vrystaat Kommandement ontplooi, waar hy, van 1982 tot 1984, 46 keer vir die Blikore uitgedraf het. Na afloop van sy verpligte diensplig het hy by Sentraal begin skoolhou, en in 1985 ‘n dosentpos by die Potchefstroomse Onderwyskollege aanvaar.
Gedurende sy tyd by Pote het Flippie ook vir Wes-Transvaal verteenwoordig en in twee toetse teen die Nieu-Seelandse Kavaliers in 1986 gespeel. Hy studeer deeltyds verder in personeel- en bedryfsielkunde, en word ‘n bestuurspos in menslike hulpbronne aangebied by Noordkaap Lewendehawe, waar hy sy rugbyloopbaan met Griekwas afgesluit en in 1989 nog ‘n keer in die groen en goud uitgedraf het - teen ‘n Wêreldspan tydens SA Rugby se eeufeesvieringe.
Vandaar het die boerdery eenvoudig van krag tot krag gegaan, en het Flippie in 2012 permanent plaas toe geskuif - waar hy kan terugkyk op ‘n lang rugbyloopbaan wat ‘n totaal van ses toetse ingesluit het.
Die moeilikste teenstander teen wie hy te staan gekom het? “Richard Prentis was superfiks en kon vir 80 minute skrum,” vertel Flippie. “Die ander loskoppe het ek eenvoudig doodgelê voor rustyd, en dan was hulle gô uit in die tweede helfte...”