Die All Blacks is ‘n harde klomp manne. Jy moet hare op jou tande hê as jy hul magtige voorhoede aandurf. En dit was waaraan die nasionale keurders gedink het toe hulle voor hierdie All Black-toer met vier oë na ons beste voorspelers gekyk het.
Veral die belangrike slotposisie het kopkrap gekos. Daar was manne soos Frik du Preez, Sakkie de Klerk, Gawie Carelse, Martin van Rensburg, almal Springbokke wat verlede jaar in Brittanje gespeel het. Wie sou Frik se maat wees?
Die keuse het op ‘n sterk, swaar slot geval wat nog nie sy Springbokkleure verwerf het nie – Johan Spies. En dit was ‘n baie goeie keuse.
Hierdie sterk Noord-Transvaler het uit die staanspoor gewys dat hy as nuweling baie goed in die Springbokpatroon pas. Die harde rugby wat mens teen die All Blacks kan verwag, pas in sy kraam. Dis soos hy self sê: “Hoe harder hoe beter, ek hou nie van rondhardloop nie.”
Spies het sy gewig (en dis ‘n tamaai 250 pond) pragtig in die skrums, lynstane en die los ingewerp en saam met die ander vaste voorspelers van die Springbokke die grondslag vir die Bokke se welslae gelê. Vir Johannes Jacobus Spies van Harrismith se wêreld, is hierdie reeks ‘n droomondervinding waarna hy al lank streef.
Hy is op 8 Mei, 1945, op Harrismith gebore en het daar in die Laerskool Harrismith met rugby kennis gemaak. Hy was eers ‘n stut en later aan die Hoërskool Grey in Bloemfontein is hy na die slot-posisie toe geskuif. Spies het in 1963 vir die Vrystaatse skolespan plek gekry en toe reeds gewys dat hy dit nog ver sou bring.
Hy is in 1964 na die Lugmag-gimnasium in Pretoria waar hy kaptein van die eerste span was. In dieselfde jaar het hy vir Noord-Transvaal se o.20-span begin speel. Die jaar daarop is hy na die Universiteit van Pretoria waar hy ‘n B.Comm-kursus gevolg het. Hy het eers in die 0.20-span begin speel en toe in die Tukkies se gedugte eerste span plek gekry.
In 1966 is hy vir die S.A. Universiteitspan gekies. Die jaar daarop het hy die eerste keer vir Noord-Transvaal gespeel, “Dit was ‘n groot ondervinding om in die span te wees wat die Franse toerspan met 19-5 geklop het,” vertel hy.
Die S.A.-keurders het hul oë reeds op hom gehad en hom na die proewe genooi. Die Springbok-deur was egter nog vir hom gesluit.
In 1968 het hy vir Noord-Transvaal teen die Leeus gespeel en in 1969 het hy vir die Gaselle plek gekry. Hy het weer in die Springbokproewe gespeel, maar nie plek gekry in die span wat in Brittanje gaan toer het nie.
Vanjaar het Spies alles in die stryd gewerp en puik spel in die S.A. proewe gelewer. Toe die span aangeskondig is, was sy naam daar.
Daarna het ‘n werklike groot ondervinding vir Johann Spies te beurt geval. Voor sy eie skare op die tuisveld, Loftus Versfeld, het hy in sy eerste toets in ‘n wenspan teen die magtige All Blacks gespeel.
Die Bokke het oortuigend met 17-6 gewen en dis ‘n gebeurtenis wat Spies stellig nooit sal vergeet nie. “Onbeskryflik was dit”, sê hy self.
Na die nerderlaag in die tweede toets was die pragvertoning in die derde toets in Port Elizabeth net so ‘n wonderlike ondervinding.
“Dit was baie hard, maar baie lekker”, sê hy. Hy het boonop saam met sy Noord-Transvaalse slotmaat sedert 1967, Frik du Preez, in die Springbokspan gesak, en agter twee spanmaats, Piston van Wyk en groot Mof Myburgh.
Van Frik du Preez sê hy: “Hy is sonder twyfel die beste slot wat ek nog gesien het.”
Johan Spies is 6 vt 4.5dm lank en weeg 250 pond. Ondanks sy grootte is hy besonder fiks en beweeglik. Hy oefen baie hard en is bly dat hy in die Tukkie-span speel.
Die Tukkies begin reeds vroeg in die seisoen oefen en in die somer word daar gereeld kragoefeninge gedoen. Die Tukkies doen ook baie stamina-werk en dit verklaar stellig waarom Johan Spies tot die einde van die wedstryd met ewe groot vuur speel.
Daar is een prestasie waarmee Spies werklik kan spog. Hy het nog nooit ‘n besering opgedoen nie. Sedert 1963 het hy nog nooit aan ‘n wedstryd onttrek nie.
Spies is getroud, en sy vrou, Saar, is ‘n baie groot rugby entoesias. Hulle het mekaar aan die Universiteit van Pretoria ontmoet.
Hoewel Johan Spies se hart punt plaas toe trek, sê hy dat hy nog paar jaar lank rugby gaan speel. “Ek gaan my rugby klaar speel en dan koers kry Harrismith toe, plaas toe…”