Hoewel hy slegs twee keer, in 1980, die groen en goud oor die kop getrek het, was Noord-Transvaal se Tommy du Plessis een van die gewildste en, inderdaad, mees onderskatte skrumskakels van die Sewentigerjare. Dit was veral sy super-lang aangeë wat die lewe van ‘n jong Naas Botha, op losskakel, geweldig vergemaklik het.
Benewens die feit dat hy die Ligbloues met onderskeiding in 126 wedstryde (1975-85) verteenwoordig het, insluitende agt Curriebeker-finale, was Du Plessis ook populêr, onder veral die skoner geslag, vanweë sy lang, bruin lokke. Sy lang hare het egter nie altyd die goedkeuring van meer konserwatiewe keurders weggedra nie...
Du Plessis (70) woon nog in Pretoria, waar hy in die baksteenbedryf betrokke is. En, hy dra steeds nie sy hare kort nie. “Ek is die afgelope vyf jaar in ‘n bemarkingshoedanigheid werksaam by Zebediela Bricks, wat aan my oud-spanmaat Pierre Peens behoort,” vertel hy.
Du Plessis en Peens (senter) was lede van die Ligblou-span wat WP met 39-9 afgeransel het in die Curriebeker-eindstryd van 1980.
Vroeër was Du Plessis vir etlike jare streeksbestuurder van Distell (voorheen Stellenbosch Boere-Wynmakery).
Thomas Dannhauser du Plessis is op 29 Junie 1953 gebore op Elsburg, “net anderkant Germiston”, en was een van agt kinders. In 1966, is hy Hoërskool Middelburg toe waar hy vyf jaar in die koshuis deurgebring het.
“Dit was wonderlike jare,” vertel hy. “Ek het die koshuislewe terdeë geniet; rugby en krieket gespeel; aan atletiek deelgeneem; en ongelooflike pêlle gemaak.
“Oom George Claassen was skoolhoof, en hy was amazing!”
George Claassen was natuurlik die pa van Wynand Claassen, wat sowel ‘n Ligblou- as Natal-legende is en ook Suid-Afrika aangevoer het (1981-82). Claassen en Tommy du Plessis (1980) is Hoërskool Middelburg se enigste Springbokke.
“Wynand was ouer as ek en ons het teen mekaar gespeel in die jaarlikse kragmeting tussen die matrieks en die res van die skool, toe ek in st.8 was.”
Min het Du Plessis toe geweet dat hy en Claassen jare later, op Tuks, boesemvriende sou word.
“Ek het in st.9 en matriek vir Middelburg se Eerstespan gespeel, maar nooit Cravenweek gehaal nie. Ek het laat ontwikkel, en dis die hartseer van rugby; dat baie spelers wat laat ontwikkel nooit ‘n kans kry om hulle op ‘n hoër vlak te bewys nie.”
Op Tuks het hy vir sy koshuis, Maroela, in 1972 verteenwoordig, en ook die universiteit se O/19- en later O/20-span gehaal.
“Toe ek weer sien, word ek na Noord-Transvaal se O/20-proewe genooi, maar ek het nie die span gemaak nie,” onthou hy.
“Een van die O/20-keurders, Prof Prinsloo, het na afloop van die proewe vir my gevra: ‘Wil jy vir Noord-Transvaal O/20 speel?’ Uit die aard van die saak het ek ‘Ja’ geantwoord.
“Dis toe dat hy vir my sê: ‘Dan moet jy jou hare sny...’
“Ek het my hare so effens om die ore geknip, en die span gehaal.”
Du Plessis het selfs die provinsiale O/20-span aangevoer, en in 1974 verdere ‘vakmanskap’ in die Vatikaanstad, van alle plekke, ondergaan.
“Tuks se sportkantoor het my gekontak om te hoor of ek sou belangstel om in Rome te speel. Die Universiteit van Rome het ‘n skrumskakel benodig, en toe ek my oë uitvee was ek in Italië!
“Die voormalige Springbok-skrumskakel Piet Uys was ‘n veiligheidsbeampte by die ambassade in Rome en ek het by hulle gewoon. Dit was ‘n wonderlike ondervinding wat my geleer het om meer beheer op skrumskakel te neem.”
Terug in Pretoria, in 1975, het Du Plessis Tuks se Eerstespan gehaal en dieselfde seisoen sy buiging vir die Ligbloues gemaak, nadat Butch van Wyk sy nek beseer het in ‘n Carltonliga-wedstryd.
Sy debuut was teen Natal en na slegs drie wedstryde verteenwoordig hy Noord-Transvaal in die Curriebeker-eindstryd teen Vrystaat in Bloemfontein, wat die Ligbloues op dramatiese wyse met 12-6 wen.
“Dit was die dag van Pierre Spies se se onvergeetlike wendrie in die doodsnikke.
“Behalwe dat hy ongelooflik vinnig was, was wyle Pierre ‘n ware karakter. En so ook ouens soos Pierre Edwards, op sy unieke manier, en Tjokkie van der Merwe, wat die kuns om teenstanders te ‘chirp’, vervolmaak het.
“Ek was bevoorreg om saam met briljante spelers, vir sowel Tuks as Noord-Transvaal, te kon speel, en dit verhef ‘n mens - totdat jy uiteindelik die hoogste sport bereik.
“In dié opsig is ek is baie verskuldig aan ouens soos Pierre Spies, Christo Wagenaar, Naas Botha, Moaner van Heerden, Louis Moolman, Burger Geldenhuys en Wynand Claassen.
“Wynand was ‘n ongelooflike agsteman.
Dis myns insiens die belangrikste posisie, want sodra die voorspelers effens onder druk is, is die enigste speler wat die agterlyn in spel kan bring die agsteman, en Wynand was ontsettend vaardig in dié opsig.
“Verder is ek baie bly dat ek sáám en nooit téén Naas hoef te gespeel het nie!”
Tommy du Plessis bereik die hoogste sport toe hy op 26 April 1980 vir die Springbokke uitdraf teen Hugo Porta se Suid-Amerikaanse Jaguars in Johannesburg, en hy duik oor vir die eerste drie in ‘n oorwinning van 24-9.
“Die tweede toets, in Durban, was veral spesiaal omdat Die Transvaler (destydse oggendkoerant), sonder my medewete, vir my pa, wat in ‘n rolstoel was en nie baie van my wedstryde ooit kon bywoon nie, afgevlieg het vir die toets.
“Wat ‘n aangename verrassing, na die wedstryd, toe ek uit die kleedkamer ontbied word omdat daar ‘iemand’ was om my te sien, en daar sit my pa…”