Daardie dag in 1970 het die Springbokvleuel Leon Vogel, “gemaak”. Sy drie vir die Vrystaat teen die 19-jarige All Black-sensasie Bryan Williams is in ons geheues ingeprent.
Vogel het vier jaar later Springbok geword teen Willie-John McBride se Britse Leeus. Maar daardie dag in 1970 was waarskynlik sy groot hoogtepunt.
Die Vrystaat het die beweging die Ikey genoem. Joggie Jansen en Jan Sclebusch het ‘n fopskêr gedoen en Piet Strydom het in vakuum ingesny en Vogel weggestuur. Vogel het net daardie ekstra spasie nodig gehad om om Williams te hardloop.
Hy het 39 drieë in 54 wedstryde vir Vrystaat gedruk, dieselfde getal as Jaco Reinach en Jan du Toit.