Henning van Aswegen het van die laat sewentigerjare tot die middel tagtigs 84 keer op loskopstut vir die Westelike Provinsie gesak, en in 1985 selfs vir die Streeptruie tot oorwinning in ‘n Curriebeker-eindstryd gelei.
Die afgelope bykans 20 jaar is hierdie sterk, voormalige Springbok egter in ‘n rolstoel vasgekluister. Van Aswegen is ‘n slagoffer van die sogenaamde arterioveneuse misvorming in die rugmurg (Spinal AVM), ‘n seldsame, abnormale warboel van bloedvate op, in of naby die rugmurg wat permanente skade van die ruggraat tot gevolg kan hê.
“Dokters meen dat ‘n mens met die toestand gebore word, maar dat dit jou eers later, van ongeveer 50 jaar af, begin aantas,” verduidelik Van Aswegen.
“Ek het mettertyd agterkom dat ek al swaarder geloop en dat my voete begin sleep het. Rugby het onskuldiglik moontlik ‘n aandeel gehad, in die sin dat ek lank voordat my toestand geïdentifiseer was reeds ‘n paar rugoperasies moes ondergaan.”
Soos dit ‘n trotse en taai boorling van Suidwes-Afrika (Namibië) betaam, het Van Aswegen egter botweg geweier dat hierdie onvoorsiene gestremdheid hom terughou.
“Ek boer met beeste op twee plase tussen Jan Kempdorp en Warrenton in die Noord-Kaap, terwyl ek en ‘n vennoot, Bennie Liebenberg, in die Vaalhartsbesproeiingsvallei met 200ha pekanneute boer.
“Ek het in Suidwes met beeste grootgeword, maar nadat ek Landbou geswot het op Kovsies was ek vir 30 jaar in die voedselbedryf betrokke. Ek het myself egter belowe dat as ek dit ooit kan bekostig ek weer sou boer, en nou boer ek reeds vir 16 jaar.”
Boonop besit Van Aswegen en Liebenberg ook die Border Hotel in Jan Kempdorp, ‘n ware plattelandse juweel, en speel hy ten minste twee keer per week gholf - met ‘n spesiaal-ontwerpte karretjie wat meganies hom laat staan om die wit balletjie te moker.
Dit verg duidelik ongelooflike durf en deursettingsvermoë.
“Dis maar ‘n kwessie van kopskuif maak,” meen hy.
“‘n Mens kan in ‘n hoekie gaan sit en jouself jammer kry, of jy kan besluit om so onafhanklik as moontlik te wees. En, jy moet goed kry om jouself mee besig te hou.
“Ek boer voluit, speel gholf en jag ook van tyd tot tyd. Kry nie eintlik tyd vir enigiets anders nie...”
Van Aswegen ruim darem genoeg tyd in vir sy aanvallige wederhelfte van die afgelope 35 jaar, Vanessa, en hulle het drie dogters.
“Esté is die oudste, en was basies ‘n beroepstudent met ‘n paar grade en ‘n MBA in Bemarking. Sy is getroud met Reenen Kok en hulle woon op Stellenbosch, waar sy van die huis af projekte behartig vir verskeie maatskappye.
“Bea is streeksbestuurder vir ‘n maatskappy in Pretoria wat osoonvrye suurstoftoestelle verkoop.”
Die Van Aswegens se derde dogter, Carla, is op 23-jarige ouderdom tragies oorlede aan ‘n brein-aneurisme.
“Die dokters stem nie saam nie, maar ek glo dat haar sterfte ook verband gehou het met my Spinal AVM,” sê Van Aswegen.
Henning Jonathan van Aswegen is gebore op 11 Februarie 1955 in Okahandja en het skoolgegaan aan Windhoek Hoër, waar hy van o11 tot matriek kaptein was van elke skoolspan wat hy verteenwoordig het.
Na skool is hy weermag toe in Walvisbaai, maar het meer tyd op die grens as in die basis spandeer en dus nie veel rugby gespeel nie.
“Ek moes proewe speel vir die SA o.23-span, die Oribi’s, wat in 1975 na Suid-Amerika sou toer, maar die bevelvoerder het die teleks met my uitnodiging na die proewe in sy snippermandjie gegooi.
“Ek kon so bietjie van die mense se taal daarbo praat en moes dus op die grens aanbly. As kind op die plaas het ‘n mens ‘n mengelmoes van Ovambo en Herero leer praat...”
Van Aswegen het ‘n offisierskursus op Heidelberg voltooi en vir ‘n ekstra jaar kortdiens aangesluit. Hy was van voorneme om permanent aan te sluit, maar aangesien hy nog nie 21 was nie moes sy pa toestemming verleen, en dié wou niks daarvan weet nie.
“‘Wat wil jy in die weermag gaan staan en maak?’ het Pa kort en bondig sy mening gelig,” onthou Van Aswegen.
Instede daarvan om dus om ‘n beroepssoldaat te word, het Van Aswegen Landbou gaan studeer op Kovsies en binne ‘n paar jaar reeds vir Vrystaat verteenwoordig in die Curriebeker-eindstryd van 1977 teen Noord-Transvaal.
“Dit was gedurende die isolasiejare en die Curriebeker-finaal was nog die hoogtepunt van ‘n seisoen. Vir ‘n jong mannetjie soos ek, was dit dus ‘n taamlike senutergende besigheid.”
Nadat hy graad gevang het, het Van Aswegen Kaap toe koers gekies, waar hy begin werk het maar ook ingeskryf was as ‘n student aan Stellenbosch - hoewel hy glad nie meer studeer het nie.
“Sodoende kon ek steeds vir Maties uitdraf,” lag hy, “en Dok Craven was natuurlik die baasbrein agter dit alles.
“Daai oubaas was nie bloot geniaal wat rugby betref het nie. Ek bedoel, hy het drie doktorsgrade behaal en was eenvoudig enig in sy soort, ‘n unieke karakter.
“Ek is net spyt dat ek hom eers so laat in my loopbaan ontmoet het...”
Van Aswegen sou uiteindelik in nie minder nie as ses Curriebeker-finale speel, waarvan vyf vir WP. Van die vyf het die Kapenaars drie gewen, gedurende die “vyf gloriejare” van 1982 tot 1986, en Van Aswegen het sy loopbaan afgesluit as kaptein van die span wat Noord-Transvaal met 22-15 getroef het in die 1985 eindstryd op Nuweland.
“Dit was ‘n ongelooflike WP-span met ongelooflike spelers,” merk hy op, “en ‘n paar heel interessante karakters.
“Een so ‘n karakter was Michael du Plessis, wat met een woord opgesom kon word: onvoorspelbaar. Hy kon enigiets aanvang en sy spanmaats het selde geweet wat om volgende te verwag.
“Dan was hy, van die veld af, ook ‘n absolute platjie.
“Rob Louw was natuurlik nie ver agter hom nie...”
Henning van Aswegen het sy toetsdebuut vir Suid-Afrika gemaak teen die All Blacks op die betogertoer na Nieu-Seeland in 1981. Dis onwaarskynlik dat ‘n mens ‘n kwaaier vuurdoop as dit kan kry.
Boonop het hy teen die berugte All Black vasskopstut Gary Knight, ‘n Statebondspele-stoeier, te staan gekom in die skrums.
“Ja, dit was maar ‘n geveg gewees,” beaam hy.
“Tog was Knight nie die sterkste vasskop teen wie ek ooit gesak het nie.
“Daardie eer kom Johan Strauss van Transvaal, wat in 1976 vir die Bokke teen die All Blacks gespeel het, toe.
“Ek het as ‘n groentjie vir Vrystaat teen hom te staan gekom, en hoewel hy tegnies miskien nie so bedrewe was nie, het hy meer as opgemaak daarvoor met sy brute krag...”
- Henning het met Albert Heenop van Rapport gesels.