Toeval het eintlik daarvoor gesorg dat Cockrell ’n haker geword het. Hy was eers ’n skrumskakel en af en toe ook ’n losvoorspeler, maar toe hy ná skool in die Paarl gaan speel het, het hy haker gaan speel, omdat daar, net een erkende haker in die twee o. 19-spanne van die Paarl was en ek op dié manier darem van ’n plek in ’n span verseker sou wees”.
CHARLIE (CHARLES HERBERT) COCKRELL is op 10 Januarie 1939 in Kaapstad gebore. Hy het in Parow, Kaap, skoolgegaan en in die laerskool skrumskakel begin speel. In die Hoërskool J. J. du Preez het hy eers skrumskakel en later flank in die o. 15-span gespeel, maar toe ’n jaar lank opgehou en sokker vir die klub Bellville gaan speel. Hier het hy behendig met sy voete geraak, iets wat hom later in die skrum en in dribbellope gehelp het.
Charlie, wat ’n telekommunikasie-tegnikus in diens van die Poskantoor is, het in 1957 in die Paarl gaan werk. Daar het hy toe by die Paarlse klub aangesluit en haker in die o. 19-span gespeel. Hy het in 1959 in sy eerste senior jaar ná ’n paar wedstryde in die tweede en derde spanne plek in die eerste span gekry en hy is nog pal daar.
Charlie het in 1963 die eerste keer vir die W.P. begin speel. Hy het nou reeds 62 keer vir die Westelike Provinsie uitgedraf en nog net Tiny Neethling, sy spanmaat by die Paarl-klub en ook nou in die Springbokspan, het in die geskiedenis meer kere as hy vir die W.P. gespeel, naamlik 64 kere.
Cockrell het reeds in 1967 in proefwedstryde begin optree en hy is ’n paar keer sterk vir die Springbokspan oorweeg. Maar hy kon nooit die paal haal nie.
DIE huidige Springboktoer was skaars op dreef toe hy skielik eendag ’n oproep van die kantore van die S.A. Rugbyraad kry. Hy moes spore maak en in Brittanje kom. Sy dienste word benodig. „Ek is gou ingespuit en ondersoek en die volgende dag is ek sak en pak hier weg,” vertel hy. „Ek het gedink ek is redelik fiks, maar ek het gou besef dat Avril Malan die manne geweldig fiks gemaak het en ek moes my litte roer om fikser te raak.” Cockrell het groot lof vir Malan as breier. „Hy is ’n baie goeie afrigter en ’n groot kenner van die spel. Ek het ’n groot respek vir hom gekry,” sê hy.
Hy sê dat hy aanvanklik na sy eie mening nie so goed gespeel het nie, maar hy het gou aan die toestande gewoond geraak en baie fiks geraak. Hy het in die Skotse, Ierse en Walliese toetse gespeel.
Hy is baie bly dat hulle so mooi gespeel het in die wedstryd teen die Barbarians. „Ons het werklik ons voete in daardie wedstryd gevind en dit was ’n wonderlike ondervinding . . . die spel en die onvergeetlike ontvangs en toejuiging wat ons van daardie groot skare gekry het.”
Nog iets wat in sy gedagtes sal bly, is die wonderlike gees wat daar geheers het in die toerspan. „Die span was sonder groepies, net een groot familiegroep, kan jy maar sê.”
HY het baie huis toe verlang na sy vrou Estelle en klein Ian, hul seuntjie van 1½ jaar. Maar nou is die sterk geboude Charlie (5 vt. 11 dm., 195 pond) weer pure perd.
„Ek is reeds dertig, maar soos ek nou voel, wil ek nog minstens twee jaar lank speel.”