Die enigste Springbok in die span, en ook die kaptein. Op 29 Maart op Darling gebore, waar hy groot geword het en ook sy eerste rugby gespeel het. Vervolgens het hy diens gedoen vir die skoolspanne van die Pietermaritzburg-kollege, H.J.S. Stellenbosch, en die senior span van die Malmesbury-klub. Op 18-jarige leeftyd is hy vir die W.P.-span gekies.
Sedert 1933 speel hy gereeld vir Tuine, van wie hy ook reeds vyf jaar lank die kaptein is. In 1937 was hy lid van die Springbok-toerspan, en in 1943-4 kaptein van die Wes-Kaaplandse span. George speel reeds vanaf 1932 vir die Westelike Provinsie, en hoewel sy beste dae agter die rug is, is hy nog 'n steunpilaar onder die voorhoede. Sy leiding is goud werd vir die span.