Chris Rogers
Full names: Christopher David
Date of birth: 10 Oct 1956
Place of birth: Fort Victoria, Zimbabwe
School: Milton
Springbok no: 534
Springbok debut province: Transvaal
Physical: 1.80m, 95.0kg
Current age: 68
Test summary: Tests: 4 Tries: 0
First Test: 2 Jun 1984 Age 27 - Hooker against England at Boet Erasmus, Port Elizabeth
Last Test: 27 Oct 1984 Age 28 - Hooker against South America at Newlands, Cape Town
Test history:
DateAgePositionOpponentVenueResultScoreProvince
02 Jun 1984 27Hooker England Boet Erasmus, Port Elizabeth Win: 33-15  Tvl
09 Jun 1984 27Hooker England Ellispark, Johannesburg Win: 35-9  Tvl
20 Oct 1984 28Hooker South America Loftus Versfeld, Pretoria Win: 32-15  Tvl
27 Oct 1984 28Hooker South America Newlands, Cape Town Win: 22-13  Tvl

Chris Rogers: Albert Heenop

Zimbabwe is bekend vir die ikoniese pronkrughond, oftwel rifrug. Die rifrug word as ondeund, hardnekkig en lojaal bestempel. Bogenoemde karaktereienskappe is ook perfek van toepassing op die voormalige Rhodesiese, Transvaalse en Springbok-haker Chris Rogers.

Rogers, wat 66 jaar gelede in Fort Victoria (deesdae Masvingo), Rhodesië, gebore is, het meer as 20 jaar gelede reeds, na bykans 20 jaar in Suid-Afrika, weer teruggekeer na sy geboorteland, om sy besigheid, P&R Hydraulics & Engineering in Bulawayo, op te bou as die vooraanstaande hidrouliese maatskappy in Zimbabwe.

“Omrede ons, as gevolg van sportisolasie, nie juis rugbytoere gehad het in die tagtigerjare nie, kon ek ’n paar besighede in Suid-Afrika opbou, terwyl ek vir Transvaal gespeel het,” vertel Rogers. “Die feit van die saak is, as ’n mens vir twee maande moes op toer gaan, sou daar niks van jou besigheid oorgebly het nie. “In die laat negentigs het ons egter ’n traumatiese kaping deurgemaak, en dis toe ek besluit het om pad te gee.” ’n Mens wonder onwillekeurig of die misdaadsituasie juis beter is in ons onstabiele buurland…

“Wel, in Zimbabwe het die misdadigers nie vuurwapens nie, net klippe. En, hulle is ook nie so sterk nie, so hulle kan nie die klippe ver gooi nie,” kom die ironiese reaksie van Rogers.

“Wat die ekonomie betref, is dit uitdagend. Indien ’n mens nie ’n entrepreneur of straatwys genoeg is nie, sal jy dit nie maak nie en maar moet terugkeer Suid-Afrika toe om vir een van die parastatale te werk.” Rogers besit ook sowel ’n huisboot, Mermaid, op Karibadam, as ’n wildsplaas.

Hy is al drie keer getroud, en skerts, binne hoorafstand van sy liefde van die afgelope 27 jaar, Angela, ’n Joga-instrukteur, dat “sodra hulle te oud raak ruil ek hulle in…”

Rogers het ’n dogter, Kirsten, wat vir hom werk, en seun, Scott, wat P&R Earthmoving in Kemptonpark besit, terwyl Angela twee seuns van haar eie het, Lloyd, wat 18 spazawinkels en ’n mieliemeule in Zimbabwe besit, en Dean, ’n juwelier in Kaapstad.

Rogers se pa is oorlede toe hy 18 maande oud was, en nadat sy ma hom vir 12 jaar alleen grootgemaak het, het sy weer getrou met ’n beesboer. “My tienerjare het ek dus deurgebring op ’n beesplaas naby Beitbrug,” onthou Rogers, wat skoolgegaan het aan Milton, die eerste publieke seunsskool in Rhodesië. “Ek het egter nie té waffers gevaar wat rugby op skool betref nie, en kon slegs die vierdespan haal - hoewel ek reeds op 16-jarige ouderdom skool verlaat het om ’n ambag te leer. “Ek was nie ’n gebore rugbyspeler nie, maar ’n selfgemaakte een.

“Deesdae spandeer die professionele spelers vier tot vyf ure per dag in die gimnasium. In ons tyd, moes ek dit snags doen, terwyl ander mense reeds geslaap het. “So vasbeslote was ek om dit te maak as ’n rugbyspeler.” Die lang ure van gewigstoot het vrugte afgewerp, en Rogers het in 1977, op 20-jarige ouderdom, sy debuut vir Rhodesië gemaak.

Die bosoorlog het egter ook met sy rugbyloopbaan ingemeng, en vir sewe jaar was Rogers in en uit die bos. “Gelukkig, aangesien ek vir Rhodesië rugby gespeel het, het ek darem ook heelwat afgekry,” onthou Rogers.

“Nadat Rhodesië vir WP ’n skoknederlaag toegedien het in 1977, het eerste minister Ian Smith, ’n groot rugbyondersteuner, gemeld dat, sover dit die land se moraal aangaan, die oorwinning heelwat meer werd was as om die vyand op die slagveld te verslaan.”

Die Curriebeker-stryd teen Natal in Durban op 8 September 1979 is een wat Rogers en sy Rhodesiese makkers, wat, grootliks vanweë militêre verpligtinge, nie ’n enkele wedstryd tot op daardie stadium kon wen nie, nooit sou vergeet nie.

Die berugte bosoorlog was besig om ’n klimaks te bereik, en Rhodesië se heelagter LeRoy Duberly het slegs ’n paar dae voor die wedstryd teen Natal gesneuwel, toe die Puma-helikopter, waarin hy en ‘n dosyn ander manskappe gevlieg het, oor Mosambiek afgeskiet is.

“Ek en LeRoy was normaalweg kamermaats gewees wanneer die span getoer het,” vertel Rogers, “en ons het die Saterdagoggend van die wedstryd nog op hom gewag om by die span aan te sluit, toe die tyding van sy dood die span bereik het. “Dit was verskriklik.” Rhodesië het daardie middag ’n begeesterde oorwinning van 19-15 behaal.

In 1980, het Rhodesië laaste op die Curriebeker-punteleer geëindig, en moes hulle ’n promosie-relgasie wedstryd teen SWA speel.

“Ons afrigter, Brian Murphy, het vooraf gewaarsku dat, indien ons verloor en in die B-Afdeling opeindig, wegwedstryde op plekke soos Welkom en Witbank ons voorland sou wees. Ons het SWA met 50 punte oorrompel.

“Net daarna, met Robert Mugabe wat aan bewind gekom het, het Zimbabwe egter alle sportbande met Suid-Afrika verbreek en kon ons in elk geval nooit weer aan die Curriebeker-kompetisie deelneem nie. “Dus het ouens soos ek en Ray Mordt ons heil in die Republiek gaan soek.”

Rogers, wat 56 keer vir Rhodesië uitgedraf het, sou van 1981 tot 1988 vir die Rooibontes op nie minder nie as 97 keer met onderskeiding verteenwoordig.

Hy het deel uitgemaak van die Transvaal-spanne wat twee jaar agtereenvolgens, in 1986 en 1987, die Curriebeker-eindstryd gehaal het, sowel as die span wat in 1986 ’n skoksege van 24-19 oor die Nieu-Seelandse Kavaliers behaal het.

Rogers het ’n uiters gedugte Vaal-voorry gevorm met Piet Kruger en Barabas Venter, en hierdie dinamiese drietal het verál vir die Kavaliers, basies die All Blacks in vermomming, opgekeil in die skrums.

“Daardie dae kon ’n mens nog behoorlik sak, en skrum in die ware sin van die woord; ons het hulle haker, John Mills, en vasskopstut, Scott Crichton, so gekarnuffel dat altwee uiteindelik vervang moes word.”

Rogers was ’n trotse lid van Wanderers, en het die geskiedkundige klub gehelp om in 1983 die Trekliga te wen. Dit het vir Wanderers die geleentheid gebied om in 1984 aan die Klubkampioenskap in Durban deel te neem.

Skaars ’n maand later het hy sy buiging vir Suid-Afrika gemaak teen Engeland op 2 Junie 1984 in Port Elizabeth. Die kranige haker sou altesaam vier toetse speel, twee keer teen die Engelse en ook twee keer teen Hugo Porta se Suid-Amerikaanse Jaguars.

“Nadat ek ’n paar keer pynlik naby gekom het, het ek uiteindlik op 27 die paal gehaal,” grinnik Rogers.

Uli Schmidt was seker gunsteling om in sy pa, Louis, se voetspore te volg en ook Bok te speel, maar ek het sy ribbes so effens gekneus tydens ’n taamlike woeste skrumskermutseling gedurende die proewe. Dus het hulle nie ’n keuse gehad as om die Engelsman te kies nie.

“Ek het altyd geglo dat ek ’n miljoenêr sou word indien ek vir die Springbokke gespeel het; nie vanweë borgskappe; bloot aangesien ek ’n huishoudelike naam sou wees.”

* Wanderers het in die tagtigerjare spelers van regoor die wêreld gelok, en twee sulke beroemde name het die volgende oor Chris Rogers te sê gehad:

John Robbie (Ierland, Britse & Ierse Leeus):
Chris was ’n manjifieke haker en ‘n uiters ongewone ou. Hy was absoluut toegewyd aan rugby, en een van die eerste spelers om met gewigte te begin oefen. Hy het oor ’n ondeunde humorsin, wat soms aan boosaardig gegrens het, beskik; hy was ontsettend snaaks. Chris het aan disleksie gely, maar nietemin homself as ’n sakeman van formaat onderskei. Myns insiens was hy die enigste haker wat ooit vir Uli Schmidt hoofbrekens (en rib-breke) besorg het. Chris het alles gegee vir Wanderers, Transvaal en die Bokke. Hy sou miljoene werd gewees het vandag.

Murray Mexted (Nieu-Seeland):
Chris was ’n woeste mededinger en ’n rakker van die veld af, wat van hom die perfekte spanman gemaak het. Ek het sy geselskap altyd terdeë geniet.