Bevin Fortuin, voormalige Springbok-heelagter en hoofafrigter van die Northam Rhinos, is Donderdagmiddag dood.
Hy was 46 jaar oud.
Die Northam Rhinos en die Zondereinde-gemeenskap het hul medelye met Fortuin se vrou, jong seun en familie betuig.
“Bevin se ongelooflike bydrae, op en van die veld, laat ? nalatenskap van onskatbare waarde. Sy verlies word diep is ons gemeenskap gevoel, maar die hemel is ryker met sy teenwoordigheid daar.
“Ons bring hulde aan jou, Bevin Fortuin, Springbok nommer 780, vir die noemenswaardige impak wat jy op die Northam Rhinos en die Setaria- en Zondereinde-gemeenskap gehad het.”
Fortuin het sy beroepsrugbyloopbaan by die SWD Arende begin en het van 2000 tot 2005 vir die span gespeel voordat hy by die Cheetahs aangesluit het. Hy het van 2005 tot 2009 in Bloemfontein gespeel en is in 2006 vir die Springbokke gekies.
Hy het in twee toetse teen onderskeidelik Ierland in 2006 en Australië in 2007 vir die Bokke gespeel.
Fortuin was hierna kortliks weer by SWD, waarna hy hom op afrigting begin toespits het.
Hy was onder meer speler-afrigter van die klub Blanco, later hoofafrigter van die SWD Arende en het daarna by die afrigtingskorps van die Blou Bulle in Pretoria aangesluit.