"DIE dokters gee my so drie maande om te leef. Maar dis hul mening, nie myne nie. Ek gaan fight."
Só praat Kleintjie Grobler (54), oud-Springbok, nadat hy 'n week gelede met maagkanker gediagnoseer was.
Ek het Kleintjie verlede week gebel om die onderhoud te reël. Toe sê hy hy sal beskikbaar wees "maar onthou net ek is siek". Ek het gedog hy praat van griep of so iets.
Ek wou eintlik met Grobler gesels oor die dae toe hy een van die aanvallendste losvoorspelers in SA rugby was. Sy provinsiale loopbaan vir Noord-Transvaal, die Vrystaat en Wes-Transvaal, het gestrek van 1966 tot 1981.
Hy het ook in drie toetse, en teen die Leeus van 1974 en twee teen die Franse (1975) gespeel en was lid van die Springbok-toerspan na Frankryk in 1974.
Grobler was in sy speeldae een van die aanvallendste losvoorspelers in die land. Sy volmaakte ondersteuning en voorgevoel het gemaak dat hy konstant een van die voorste driedrukkers in SA rugby was.
Meer bekend in daai dae van Tawwe Tienies, was dat Kleintjie nie 'n man was met wie jy sukkel nie. Anders moes jy wag en hoop dat die skeidsregter jou kom red.
Ek vra met die groetslag wat nou eintlik met sy gesondheid skort, want Kleintjie lyk blakend gesond met sy 1.89 m en 105 kg se gespierdheid.
Hy vertel: "Verlede Augustus het ek siekerig gevoel. Die dokter het kanker van die dikderm gediagnoseer. Hy het geopereer en ek het ses maande lank behandeling ontvang."
" 'n Week gelede, die Vrydag, het die einste dokter my weer ondersoek en `skoon', genees van alle kanker, verklaar. Daai Sondag kry ek die allerverskriklikste maagkrampe. Maandag gaan ek weer vir 'n ondersoek en die dokter sê: `Jammer, die kanker het verder versprei, Jy het drie maande om te leef.'"
Maar volgens Grobler is dit nie vir die dokter om te sê nie. Hy los dit vir die Hoër Hand.
"Ek het vrede gemaak met my lot en my Skepper. As ek moet gaan, dan moet ek gaan."
"Maar ek is nie van plan om saam te speel nie. Ek voel honderd persent fiks. Ek dink nie eens aan die dood nie. Ek moet nou net my liggaam goed oppas, dan sal een van die twee wen."
Maar ons verander die onderwerp na rugby. 'n Sport waarin hy die laaste paar jaar nie die minste in belang stel nie.
Nee, dis nou net rolbal vir hom, 'n sport waarin hy Noord-Transvaal verteenwoordig het sedert hy in 1992 ná 30 jaar diens as adjudant-offisier in die SA Lugmag afgetree het.
Hy vertel toe hy Noord-Transvaal die eerste keer in 1966 verteenwoordig het. Die Bloues het 'n groot pak in Bloemfontein teen die Vrystaat gekry.
Daardie aand terug op die trein na Pretoria, moes Kleintjie die kompartement deel met Piet Uys, Mof Myburgh en Frik du Preez.
In die hoek van die kompartement het Mof gesit, sy elmboë op die afslaantafeltjie, glas in die hand.
Oorkant hom het Frik gelê-sit, glas in die hand.
En langs Du Preez, rustig agteroor, glas in die hand, Piet Uys.
Eenkant in die hoekie het die skamerige jong Kleintjie gesit.
Doodstil, hy mog nie boe of ba sê nie, het die ou manne hom verbied.
Só het dit die hele nag gegaan: Kleintjie tjoepstil en Mof en sy mense aan die kuier.
"Maar ek het eintlik gevlei gevoel. Die drietal het my toegelaat om daar by hulle te kom sit, en daar moes ek my vakleerlingskap in die Noord-Transvaal-span begin."
Grobler het van 1966 tot in 1971 vir Noord-Transvaal flank en agtsteman gespeel.
Vir die Vrystaat het hy van 1972 tot 1976 uitgedraf. In sy 42 wedstryde het hy 26 drieë (destyds 'n rekord) gedruk.
Vanaf 1977 het hy ook 'n hele paar keer vir Wes-Transvaal gespeel voordat hy weer na Pretoria verhuis het.
Daar woon hy en Martie in 'n mooi huis in Valhalla.
Hy het twee getroude kinders en hy is oupa van twee kleingoed.
Ons groet en Kleintjie sê vir oulaas: "As daar iemand is wat dink ek is sy vyand, sê hom hy moet kom kuier dat ons kan praat. Laat ons vrede maak. Sover ek weet, het ek nie vyande nie, maar as daar mense is wat dink dat ek hulle langs die pad te na gekom het, laat ons dan die ding uitpraat."
- Phil Zaayman