2019 - Die laaste onderhoud met André Bestbier…
Na bykans 50 jaar van landsdiens, waarvan 40 jaar in die weermag, kon Brigadier-Generaal André Bestbier in 2012 uiteindelik begin uitspan. Die voormalige valskermsoldaat en Recce-bevelvoerder geniet sy aftrede, en skerts dat sy wederhelf van meer as 45 jaar, Jeanette, ‘n medalje verdien omdat “sy so lank kon uithou!”
André Bestbier is natuurlik ‘n Vrystaat-rugbylegende, (30 wedstryde, 1972-76), en het ook vir die Springbokke uitgedraf in ‘n toets teen Frankryk in 1974.
Bestbier, ‘n relatief klein maar rateltaai haker, was lid van die Vrystaat-span wat in 1973 die eerste keer in die geskiedenis tot ‘n Curriebeker-eindstryd kon deurdring. Dit was teen Noord-Transvaal op Loftus Versfeld en die magtige Ligbloues het uiteindelik met 30-22 geseëvier, maar nie voor Bestbier en kie ‘n verbete stryd opgesit het nie.
Die rustydtelling was 10-10. “Aangesien Vrystaat nooit voorheen in ‘n finaal gespeel het nie, was ons effens verskrik,” meen hy. “Boonop was dit ‘n besonderse sterk Noord-Transvaal-span, met ‘n groot pak, maar ons het die bal heeltyd probeer hardloop en ek dink hulle was nogal verras met die ‘onervare’ Vrystaat-span.”
In 1974 besoek Willie-John McBride en sy Britse Leeus die Republiek en vee die spreekwoordelike vloer met die plaaslike opposisie - insluitende die Springbokke. ‘n Paar weke nadat die Leeus vir Suid-Afrika met ‘n rekord-telling van 28-9 afgestof het in die tweede toets, is Vrystaat egter bitter ongelukkig om met slegs 9-11 die knie te buig teen die Britte - voor 65,000 fanatiese ondersteuners op die Vrystaat-stadion.
“Dit was een van die hardste wedstryde van my lewe,” onthou Bestbier, wat met ‘n yslike blou oog maar sy trots ongeskonde daarvan afgekom het.
“Die 1974 Leeus was ontsettend aggressief; hulle wou ons van die veld af verniel en dan weghol met die kragmeting. “Maar daai was een wedstryd wat ons moes gewen het.”
Vier maande later, op 30 November 1974, maak Bestbier sy toetsdebuut in Suid-Afrika se oorwinning van 10-8 oor Frankryk op die beroemde Parc des Princes in Parys.
“As ‘n mens in Frankryk aankom is jy maar onkundig, maar na ‘n paar toerwedstryde raak jy gewoond aan die Franse se getrap, skop en tekere gaan. “En, dit was wonderlik om op die veld te kon draf en sê dat ek toetsrugby gespeel het...”
Bestbier was ‘n sterk aanspraakmaker op die groen en goud Nr 2-trui vir die 1976 reeks teen die All Blacks, maar Suid-Afrika se Grensoorlog sou ‘n stokkie daarvoor steek. “Ek moes ‘n keuse maak tussen rugby en my militêre loopbaan, en het besluit dat my loopbaan op die langtermyn bekangriker was,” verduidelik hy, toe reeds ‘n kaptein en kompaniebevelvoerder by 1 Valskermbataljon.
“Derhalwe is ek grens toe met my troepe. Buitendien hang mense maklik ‘n bordjie om jou nek, dat jy eerder wil rugby speel as oorlog maak...” In terme van sy loopbaan, was dit ‘n wyse besluit en in die vroeë Tagtigerjare word Bestbier aangestel as bevelvoerder van 1 Verkenningsregiment op die Bluff in Durban. Sy voorganger daar was Jakes Swart, Vrystaat-kaptein teen die 1974 Leeus.
Kolonel Bestbier se tyd in bevel van ‘1 Recce’ het saamgeval met ‘n merkwaardige tydperk in die geskiedenis van die oorlog, wat op Suid-Wes Afrika se grens met Angola gewoed het. “Die eenheid het in daardie stadium oorgeskakel van ‘n kommando na ‘n regiment, en dit was besige jare, dit was intens. Ons het sendings oral in Suider-Afrika geloods; oos, wes, noord, suid...”
Een van die opspraakwekkendste sendings was ‘Operasie Kerslig’ in November 1981, waartydens die Recce’s ’n kontroversiële aanval geloods het op ’n olieraffinadery in Luanda, Angola. Bestbier was die operasionele bevelvoerder, met Kaptein Douw Steyn (HC) as bevelvoerder van die aanvalseenheid.
“Ons was ver van die huis af, en dis nooit goed as dinge skeefloop nie,” onthou Bestbier. “Kerslig was geloods in samewerking met die vloot, wat ons met aanvalsvaartuie teen die kus van Angola opgeneem het. Omrede dit ‘n seewaartse operasie was, was die risiko’s hoog; die weer en see-verandering moes in aanmerking geneem word, en vanweë ons kwesbaarheid vanuit die lug, moes die operasie in die donker uitgevoer word.
“Die aanvalseenheid is die nag van 29 November aan wal gesit in Luanda, maar een van hulle kleefmyne het te vroeg afgegaan en die lewe van Kaptein ‘Kokkie’ de Kock geëis. “Ons moes ‘n noodonttrekking doen, en was dit nie vir die uitstekende opleiding, en inoefening, wat die Recce’s daardie jare ondergaan het nie, kon daar meer lewensverlies gewees het...”
In 1986, bereik die terreuraanslag Durban se voorstrand met ‘n ANC-bomaanval by Magoo’s Bar, waarin drie burgerlikes sterf. “Hulle wou eintlik die Recce’s bykom, maar toe blaas hulle die verkeerde kuierplek op; die manne het gereeld by Father’s Moustache uitgehang...” vertel Bestbier, wat toe steeds bevelvoerder was van 1 Verkenningsregiment.
‘n Paar jaar later word hy as Suid-Afrika se militêre verteenwoordiger in Lisabon, Portugal, aangestel, ‘n pos wat hy vir bykans vier jaar sou beklee. Met sy terugkeer, word Bestbier bevorder tot die rang van Brigadier en aangestel as bevelvoerder van Kommandement Vrystaat. Hy tree in 2001 uit as Adjunkhoof: Staf-Operasies by die Weermaghoofkwartier in Pretoria.
Vir stilsit was daar steeds nie tyd nie, aangesien Bestbier hom vir nog 10 jaar as projekbestuurder toespits op welwillendheidswerk vir CompreCare Joint Venture, 'n gemeenskapsorganisasie wat die bekamping en behandeling van vigs help bestuur het.
Nou, 47 jaar nadat hy sy toetsbuiging vir die Springbokke gemaak het, geniet André en Jeanette Bestbier nietemin hulle aftrede terdeë. Hulle het twee kinders, André Jnr, ‘n opleidingsbeampte vir ‘n maatskappy wat sagteware ontwikkel vir besighede in die mynbedryf, en Jeannie, ‘n onderwyseres.
“Ek woon steeds in Pretoria, maar skree nie vir die Bulle nie!” skerts Bestbier. “Ek sal altyd lojaal bly aan Vrystaat...”